051 410 0967   E-mail Us  
Geskiedenis van die Braunvieh Ras

Geskiedenis van die Braunvieh Ras

Die Braunvieh is waarskynlik een van die oudste suiwer beesrasse in die wêreld, met rekords wat terug dateer tot sover as 800 v.C. Die ras kom van die Alpe in Europa en kom vandag algemeen voor in al die lande waar met bees geteel word. Romenië, met meer as agt miljoen en Italië met meer as tien miljoen Braunvieh beeste, het dié lande meer Braunvieh beeste as wat ons beeste in Suid-Afrika het.

Die eerste Braunvieh bulle is in 1907 na Suid-Afrika ingevoer as deel van 'n kruistelingsprogram geïnisieer deur die Nasionale Departement Landbou, om geskikte diere te teel vir die koue hoogliggende streke in die land. Die Braunvieh telersgenootskap is op 20 Maart 1929 gestig met die missie om die ras suiwer te hou en te bevorder onder telers. Die eerste Nasionale skoukampioenskappe is in 1953 te Bloemfontein gehou.

Gedurende 1936 is vir die eerste keer meer as 100 manlike en 100 vroulike diere geregistreer in een jaar. In 1939 groei die ledetal tot 56 en in 1945 was daar meer as 400 diere geregistreer. In 1952 het die jaarlikse registrasies vir die eerste keer 1 000 per jaar oorskry. Gereeld is diere van die Buiteland ingevoer om uiteindelik seker van die beste teelmateriaal in die wêreld na Suid-Afrika te bring.

Gedurende 1964 bereik die lidmaatskap sy hoogtepunt toe 207 lede by die genootskap geaffilieer was. Die jaar word ook gekenmerk as die keerpunt in die dinamiese groeityd van die ras.

In 1974 skei die telers wat oorwegend op die dubbeldoel eienskappe konsentreer het, van dié wat hoofsaaklik op die suiwel eienskappe klem lê. Dit lei daartoe dat die dubbeldoel telers in 1996 amptelik as 'n aparte telersgenootskap erken word en sedertdien bekend staan as die Braunvieh telersgenootskap. 'n Naam waarmee die ras internasionaal bekend staan.

Die Braunvieh kom in elke provinsie van Suid-Afrika, Lesotho, Botswana, Namibië, Zimbabwe, Zambië, Angola en in seker die meeste ander Afrika state voor. Die grootste redes seker vir die gewildheid van die ras is die rustige temperament, baie melk, vinnige groeivermoë, vrugbaarheid, langlewendheid, gehardheid, aanpasbaarheid asook die Braunvieh se vermoë om met kruisteling, 'n positiewe impak op letterlik elke ander ras waarmee dit gekruis word, te maak.

Braunvieh kruiskalwers kry 'n premie in die meeste voerkrale omdat hulle oor 'n rustiger temperament beskik, vinnig aanpas, egalige vetverspreiding en vinnige gewigstoename het. Geen wonder dat die Braunvieh oor die 25 jaar van die Nasionale Fase C interras prestasietoetsklas kompetisie op die Pretoria skou, die ras is, wat die interras kompetisie van getoetsde Fase C bulle, meer as enige ander ras gewen het.

Daar was 'n tydperk tussen 1970 tot die vroeë 1990's dat daar 'n probleem ontstaan het met swaar (disfokia) kalwing. Die genootskap en telers het bepaal dat die plat kruis wat toe meer algemeen voorgekom het 'n rede vir die kalfprobleem kan wees. Die probleem is aangespreek deur met teling die platkruis te vervang met 'n meer dakkige vorm en die beenstruktuur te verfyn.

Daar is ook gekyk na die swaar voorkant van die bulle met uitstaan skouerknoppe. Met seleksie deur die afgelope 15 jaar het die probleem so te sê verdwyn en kalwers het kleiner geword met geboorte en word normale geboortes algemeen gerapporteer en vinnige gewigstoename na geboorte. So het die geboortegewig sy hoogste piek in 1980 bereik en sedert 1983 is die geboortegewig af en bly die gemiddelde kalfgewigte van Braunvieh kalwers sedertdien onder 40kg met geboorte. Sedert 2000 is die gemiddelde geboorte gewig van Braunvieh kalwers 38,94kg.

Braunvieh Vandag

 -
 -
 -



© Braunvieh SA. All Rights Reserved.
No article or picture may be reproduced\published
without the written consent of Braunvieh SA.