051 410 0967   E-mail Us  
Braunvieh Grondwet

Braunvieh Grondwet

 

Kliek hier om die Braunvieh Grondwet in PDF formaat af te laai.

WOORDOMSKRYWING

1. Wanneer dit in hierdie Grondwet en verordeninge gebruik word, en „n strydige bedoeling nie duidelik uit die verband blyk nie, beteken:

  • “aantekening”, die opneem van die besonderhede van 'n dier op die databasis;
  • “Departement”, die Departement van Landbou in die Nasionale regering;
  • "dier”, 'n Braunvieh wat in die Kuddeboek geregistreer is of daarvoor geskik is en die woorde bees/beeste, bul/le, kalf/kalwers, koei/e en vers/e sal dieselfde betekenis hê;
  • “eienaar”, die persoon wie -
    • volgens die rekords van die Vereniging, sodanige dier besit, of
    • tot bevrediging van die Raad bewys lewer dat sodanige dier geskik is om in sy naam geregistreer te word; of
    • in die geval van 'n ingevoerde dier geregtig is om die dier in sy naam in die erkende kuddeboek van die land van herkoms te registreer;
  • “eisel”, 'n eisel van 'n dier en sluit ook 'n embrio in;
  • “embrio”, die bevrugte eisel van 'n dier;
  • “Gebied”, Suid-Afrika en sodanige ander lande soos van tyd tot tyd deur die Genootskap, met die goedkeuring van die Vereniging, bepaal;
  • “geboorte”, die geboorte van 'n dier;
  • “Genootskap”, Braunvieh SA;
  • “Grondwet”, die Grondwet (met inbegrip van die Verordeninge) van die Genootskap;
  • “inspekteur”, 'n persoon in die hoedanigheid van inspekteur deur die Raad aangestel;
  • “koper”, die persoon of persone aan wie eienaarskap of gesamentlike eienaarskap van 'n dier oorgedra word deur die verkoper van sodanige dier;
  • “Kuddeboek”, die Suid-Afrikaanse Braunvieh Kuddeboek waarin die besonderhede van alle diere, deur die Genootskap by die Vereniging ingeskryf word;
  • “Minister”, die Minister verantwoordelik vir landbou;
  • “persoon”, insluitende 'n natuurlike of regspersoon;
  • “produksie”, die groei- en produksieaantekening, reproduksie en/of funksie;
  • “Raad”, die Raad van die Genootskap, amptelik verkies ingevolge die bepalinge van die Grondwet;
  • “rasstandaarde”, die geskrewe stel fenotipiese en/of genotipiese standaarde van voortreflikheid vir die Braunvieh-ras soos van tyd tot tyd deur die Raad bepaal en waaraan enige dier na die goeddunke van die Raad moet voldoen voor sodanige dier vir registrasie aanbeveel sal word;
  • “Registrateur”, die beampte ingevolge die Wet aangewys as Registrateur van Diereverbetering;
  • “registreer”, die prosedure van registrasie van diere in die Volgeregistreerde- en Hulpstamboekafdelings van die Kuddeboek, of waardeur 'n voorvoegsel deur die Vereniging op rekord geplaas word;
  • “semen”, die semen van 'n dier;
  • “'n Suid-Afrikaansgeteelde dier”, 'n dier wat in of onderweg na Suid-Afrika gebore is: Met dien verstande dat 'n dier wat gebore word as gevolg van 'n ingevoerde eisel, as 'n ingevoerde dier beskou word;
  • “teler”, 'n lid van die Genootskap wie die eienaar is van - •die moeder ten tyde van die geboorte van 'n dier;
  • 'n telende vroulike dier ten tyde van natuurlike of kunsmatige bevrugting;
  • sodanige dier tydens eerste aanname vir registrasie in die eerste afdeling van die Kuddeboek;
  • “Vereniging”, die Suid-Afrikaanse Stamboek- en Diereverbeteringsvereniging;
  • “verkoper”, die persoon of persone wie, volgens die rekords van die Vereniging, die eienaar/gesamentlike eienaar/s van 'n dier is, of in die geval van 'n ingevoerde dier, die eienaar in die land van herkoms, wie sodanige dier verkoop het;
  • “Wet”, die Wet op Diereverbetering, 1998 (Wet 62 van 1998), of enige verdere wetgewing met dieselfde doelstelling as in gemelde Wet, insluitende die regulasies uitgevaardig ingevolge daarvan;

2. Ander woorde, afkortings en terme gebruik in die Grondwet, wat nie hierbo omskryf is nie, en waaraan 'n bepaalde betekenis geheg word in die Wet, sal dieselfde beteken as in die Wet.

3. Tensy 'n teenstrydige bedoeling duidelik uit die verband blyk, sal alle woorde wat in die Grondwet na persone in die manlike geslag verwys, die vroulike geslag insluit en woorde in die enkelvoud, sal die meervoud insluit en woorde in die meervoud, sal die enkelvoud insluit.


GRONDWET

1. NAAM VAN DIE GENOOTSKAP

Die naam van die Genootskap is Braunvieh SA.

2. DOELSTELLINGS

2.1 Onderhewig aan die bepalings van die Wet en hierdie Grondwet is die doelstellings van die Genootskap –

  • om die teelt en genetiese verbetering van die produksiepotensiaal van diere in die Gebied aan te moedig;
  • om die rasegtheid van die ras in die Gebied te bewaar en om deur alle moontlike en beskikbare middele die belangstelling in die ras te bevorder;
  • om die versameling, bewaring en ontwikkeling van die ras deur goeie seleksie ingevolge die aanvaarde beskrywing van 'n Braunvieh aan te moedig en om vermenging met ander rasse uit te skakel;
  • om rasstandaarde wat gebaseer op produksieaantekening rekords en visuele inspeksie vir genetiese afwykings en bouvorm op te stel en te han dhaaf in so vêrre dit verwant is aan funksionele doeltreffendheid. Vir hierdie doel sal alle produksiedata aan die Raad, inspekteurs en subkomitees beskikbaar gestel word;
  • om noukeurige verslae van die stambome en besonderhede van diere saam te stel, te bewaar en in stand te hou van alle diere wat deur die Genootskap by die Vereniging in die Kuddeboek geregistreer is;
  • om vir tentoonstellingdoeleindes verskillende klasse vir die ras te verkry en beoordelaars te benoem wat bevoeg geag word om die ras te beoordeel; en om landbougenootskappe en andere te oortuig van die wenslikheid en noodsaaklik-heid daarvan om slegs beoordelaars aan te stel wat deur die Genootskap aanbe-veel word;
  • om die vertoning en mededinging van die ras op landboutentoonstellings te bevorder en aan te moedig;
  • om die verkoop van diere te bevorder;
  • om in die algemeen alles in sy vermoë te doen ter bevordering van die belange van sy lede in die Gebied met betrekking tot hul bedrywighede in verband met die ras; en

2.2 Die Genootskap –

  • mag nie gemoeid wees met enige winsgewende bedrywighede, of deel hê in enige besigheids-, professionele- of beroepsbedrywighede van enige van sy lede, of die voorsiening aan enige van sy lede van geldelike hulp of van enige perseel of aanhoudende dienste of fasiliteite wat deur sy lede benodig word vir die beoefening van 'n besigheid, professie of beroep nie; en
  • het nie die mag om besigheid te bedryf nie, insluitend, inter alia, gewone handels-transaksies in die loop van besigheid, spekulatiewe transaksies, dividend verminderingsaksies sowel as die aankoop van eiendom vir die verhuring daarvan op 'n stelselmatige of gereelde basis.


3. MAGTE VAN DIE GENOOTSKAP

Onderhewig aan die bepalings van die Grondwet sal die Genootskap die mag hê -

  • om kragtens sy lidmaatskap van die Vereniging en die verlening van regspersoonlikheid aan die Genootskap in terme van die Wet, sodanige funksies te vervul en pligte uit te voer soos deur die Wet neergelê; en
  • om oor die algemeen stappe te neem soortgelyk aan dié wat 'n regspersoon by wetgewing kan verrig ten einde sy doelstellings te bereik.


4. LIDMAATSKAP

4.1 Verkiesbaarheid

Lidmaatskap van die Genootskap sal beperk word tot persone bo die ouderdom van 18 jaar.

4.2 Indeling van Lidmaatskap

4.2.1 Gewone Lede

Persone wat in die Gebied woon en wat direk of indirek by die teelt van diere betrokke is, kan vir lidmaatskap van die Genootskap as Gewone Lede in aanmerking kom. Sodanige lede sal al die regte en voorregte van lidmaatskap geniet, insluitende stemreg by enige vergadering van die Genootskap en sal ook tot die Raad verkiesbaar wees: Op voorwaarde dat –

  • persone wat aktiewe telers van diere is en sodanige diere ooreenkomstig hierdie Grondwet registreer, sal as Aktiewe Gewone Lede bekend staan; en
  • alle ander Gewone Lede sal as Nie-Aktiewe lede bekend staan en geen stemreg hê nie.

4.2.2 Lewenslange Erelede

Vir spesiale dienste gelewer in belang van die ras mag die Algemene Jaarvergadering 'n persoon tot Lewenslange Erelid verkies: Op voorwaarde dat dit op aanbeveling van die Raad geskied. Sodanige Lewenslange Erelid sal al die regte en voorregte van lidmaatskap geniet, insluitende stemreg by enige vergadering van die Genootskap en sal ook tot die Raad verkiesbaar wees.

4.2.3 Spesiale Erelede

Enige persoon wie nie noodwendig aktief gemoeid was, of is met die teelt van diere nie, mag deur die Raad op sodanige voorwaardes wat bepaal mag word, verkies word, tot Spesiale Erelid. 'n Spesiale Erelid sal geen stemreg by vergaderings van die Genootskap hê nie en ook nie tot die Raad verkiesbaar wees nie.

4.2.4 Junior Lede

Enige persoon onder die ouderdom van 18 jaar, mag, mits die Raad dit goedkeur, 'n Junior Lid word. Sodanige Junior Lid sal geen stemreg by vergaderings hê nie en nie tot die Raad verkiesbaar wees nie. Na die betaling van die vasgestelde gelde mag 'n Junior Lid aan die ander aktiwiteite van die Genootskap deelneem.

4.3 Aansoek om Lidmaatskap

4.3.1 Aansoek om lidmaatskap van die Genootskap moet op die voorgeskrewe vorm aan die Genootskap gerig word. Die aansoek moet ook vergesel gaan van die betrokke subskripsie en/of intreegeld en ander gelde soos van tyd tot tyd deur die Algemene Jaarvergadering bepaal en uiteengesit in die Bylae van Gelde van die Genootskap.

4.3.2 Die Raad mag die aansoek om lidmaatskap van enige persoon aanvaar, hetsy onvoorwaardelik of op sodanige voorwaardes as wat die Raad mag bepaal, of enige aansoek weier.

4.3.3 Indien 'n aansoek om lidmaatskap geweier is, sal die aansoeker geregtig wees op die terugbetaling van enige gelde wat sy aansoek vergesel het.

4.4 Regte en Voorregte van Lede

Uitgesluit eksekuteurs van afgestorwe boedels, kurators van insolvente boedels en likwidateurs van maatskappye of private maatskappye sal die regte en voorregte van elke lid van die Genootskap persoonlik op homself van toepassing wees en is nie oordraagbaar nie, hetsy deur sy eie handeling of deur enige wetlike bepaling. Die regte en voorregte sal die volgende insluit -

  • om alle verslae en ander publikasies te ontvang wat deur die Genootskap vir verspreiding onder lede uitgegee word;
  • om aansoek te doen vir die registrasie van diere in ooreenstemming met die bepalings van die Grondwet;
  • om alle algemene vergaderings van die Genootskap by te woon en om, onderworpe aan die bepalings van Klousule 4.2, op sodanige vergaderings te stem;
  • om, indien beskikbaar, alle deskundige tegniese advies met betrekking tot aangeleenthede rakende die Braunvieh van die Genootskap se inspekteurs en amptenare te ontvang. Alle koste wat hieraan verbonde mag wees, moet deur die aansoeker betaal word; en
  • om die Genootskap se amptelike verslae te raadpleeg en te gebruik.

4.5 Maatskappy, Private Maatskappy, Beslote Korporasie, Vennootskap of ander Regspersoon

4.5.1 'n Maatskappy, private maatskappy, beslote korporasie, vennootskap of ander regspersoon wat om Gewone Lidmaatskap aansoek doen, moet aan die Genootskap sodanige feite en gegewens voorlê as wat nodig mag wees om die aard van die beherende aandeel daarin te bepaal en moet dan, of te eniger tyd daarna, benewens die vereiste gegewens wat van alle aansoekers verlang word, die Genootskap verder in kennis stel van die naam en adres van die natuurlike persoon wat aangestel is om as verteenwoordiger by vergaderings van die Genootskap op te tree.

Sodanige natuurlike persoon sal die reg hê om skriftelik 'n plaasvervanger te benoem. Sodanige skriftelike benoeming moet die Genootskap nie later nie as voor die aanvang van die vergadering waarop sodanige plaasvervanger moet stem, bereik.

4.5.2 Alle stukke wat aan sodanige gevolmagtigde verteenwoordiger, soos in Klousule 4.5.1 uiteengesit, gerig is, word beskou as behoorlik op die maatskappy, private maatskappy, beslote korporasie, vennootskap of ander regspersoon bestel te wees en by alle vergaderings wat deur sodanige gevolmagtigde verteenwoordiger namens die maatkappy, private maatskappy, beslote korporasie, vennootskap of ander regspersoon bygewoon word, word die maatskappy, private maatskappy, beslote korporasie, vennootskap of ander regspersoon beskou as behoorlik verteenwoodig te wees.

4.5.3 Die natuurlike persoon wie, soos in Klousule 4.5.1 uiteengesit, aangewys is om sodanige maatskappy, private maatskappy, beslote korporasie, vennootskap of ander regspersoon te verteenwoordig, mag tot die Raad verkies word.

4.5.4 Indien so 'n maatskappy, private maatskappy, beslote korporasie, vennootskap of ander regspersoon in gebreke bly om aan die vereistes van Gewone Lidmaatskap te voldoen, soos in Klousule 4.2 uiteengesit, sal sy lidmaatskap van die Genootskap beëindig word en die bepalings van die volgende Klousule 4.5.5 sal mutatis mutandis op so 'n maatskappy, private maatskappy, beslote korporasie, vennootskap of ander regspersoon van toepassing wees.

4.5.5 In die geval van die likwidasie van 'n maatskappy, 'n private maatskappy of beslote korporasie of die ontbinding van 'n vennootskap of ander regspersoon sal lidmaatskap van die Genootskap outomaties beëindig word: Met dien verstande dat;

  • alle bedrae of gelde aan die Genootskap verskuldig op die datum van likwidasie of ontbinding deur die Genootskap van die likwidateur van sodanige maatskappy of private maatskappy of van die lede (hetsy gesamentlik of afsonderlik) van sodanige vennootskap of ander regspersoon gevorder sal word;
  • die likwidateur van sodanige maatskappy of private maatskappy en die lede van sodanige vennootskap of ander regspersoon verplig sal wees om al die verpligtinge van so 'n maatskappy, private maatskappy, vennootskap of ander regspersoon na te kom ten opsigte van registrasies, oordragte of enige verpligtinge wat die maatskappy, private maatskappy, vennootskap of ander regspersoon as lid van die Genootskap moes nakom; en
  • enige gelde wat betaalbaar mag wees, soos kuddegelde, registrasies, oordragte of ander verpligtinge wat na so „n outomatiese beëindiging van lidmaatskap nagekom moet word, ooreenkomstig die skaal vir Gewone Lede opgelê sal word.

4.6 Onttrekking van Prestasiedata

Produksiedata van lede verbonde aan die Vleisbeesproduksieaantekeningskema mag op versoek van die Genootskap, en onderworpe aan die voorwaardes wat deur die Vereniging voorgeskryf mag word, aan die Genootskap beskikbaar gestel word: Met dien verstande dat die Genootskap sodanige data nie tot die nadeel van enige lid of lede, of die Vereniging sal aanwend nie en dat die verdere verwerking van die data nie tot die nadeel van die oogmerke van die Vleisbeesproduksie-aantekeningskema sal wees nie.

4.7 Benutting van Prestasie- en Registrasiedata

Alle lede aktief gemoeid met die teelt van diere moet alle produksie-inligting, soos deur die Vereniging gestoor, wat alleenlik gebruik sal word vir die bevordering en tot voordeel van die ras, aan die Genootskap beskikbaar stel. „n Verklaring tot dien effekte moet deur alle lede onderteken word.


5. LEDEGELDE EN GELDE

5.1 Alle ledegelde of enige ander gelde en kommissie aan die Genootskap betaalbaar, word van tyd tot tyd deur die Raad bepaal en word vir kennisname op die daaropvolgende Algemene Vergadering van die Genootskap voorgelê.

5.2 Die jaarlikse ledegelde is vooruitbetaalbaar op 1 Julie van elke jaar en sal as agterstallig beskou word as dit nog nie op 31 Desember van die dieselfde jaar betaal is nie.

5.3 Enige lid wie se ledegeld agterstallig is, of wat ander gelde en/of kommissie aan die Genootskap skuld ten opsigte van enige gelde of verpligtinge, vir meer as 30 dae nadat 'n eis om die betaling daarvan per pos deur die Sekretaris aan hom gerig is, sal daarna geen regte en voorregte verbonde aan lidmaatskap geniet voordat sodanige skulde aangesuiwer is nie.

5.4 Die Raad mag opdrag gee dat rente en/of boetes gehef word op alle agterstallige rekeninge teen 'n koers soos van tyd tot tyd deur die Raad bepaal mag word.

5.5 Enige lid wie, om watter rede ookal, ophou om 'n lid van die Genootskap te wees sal aanspreeklik bly vir alle bedrae wat ten tyde van die beëindiging van sy lidmaatskap deur hom aan die Genootskap verskuldig was.

5.6 Indien die Raad sou beslis dat die rekening van 'n lid agterstallig is of ten tyde van die beëindiging van sy lidmaatskap uitstaande is, sal so 'n lid, indien sy rekening vir invordering aan 'n firma van prokureurs oorhandig word, verantwoordelik gehou word vir die betaling van alle regskoste en invorderingsgelde wat dit mag meebring, op die skaal soos tussen prokureur en eie kliënt, tesame met die oorspronklike bedrag, boetes en eise wat deur hom aan die Genootskap verskuldig is.


6. BEDANKINGS EN SKORSING VAN LEDE

6.1 Bedanking van Lede

Enige lid mag bedank as lid van die Genootskap deur nie minder nie as een maand voor die tyd skriftelik en per aangetekende pos kennis daarvan aan die Genootskap te gee:

Met dien verstande dat –

  • sodanige bedanking minstens voor 31 Desember ingedien moet word;
  • geen ledegelde of gedeelte daarvan terugbetaalbaar sal wees nie; en
  • alle gelde aan die Genootskap verskuldig ten volle betaal is en die lid sy verplig-tinge nagekom het ten opsigte van dokumente, rekords, registrasies en oordragte of enige ander verpligting met betrekking tot sy lidmaatskap deur die Genootskap vereis.

6.2 Skorsing van Lede

Die Raad mag 'n lid skors en/of dienste aan enige lid opskort wat -

  • in gebreke gebly het om enige bedrag wat deur hom aan die Genootskap verskuldig is te betaal binne 30 dae nadat 'n skriftelike eis vir sodanige vereffening, deur die Bestuurder onderteken, aan hom gepos is;
  • na oordeel van die Raad op enige wyse oneerbaar of afbrekend teenoor die karakter of tot nadeel van die Genootskap opgetree het;
  • die Grondwet of enige reël van die Genootskap oortree het;
  • skuldig bevind is op grond van oortreding van die Wet;
  • met opset of vir persoonlike gewin of voordeel foutiewe inligting aan die Genootskap of enige van sy amptenare of aan beamptes of beoordelaars by skoue verstrek het, of wat aan die liggaam van 'n Braunvieh sodanige veranderings aangebring het om enige persoon te mislei; of
  • probeer om 'n amptenaar van die Genootskap om te koop:

Met dien verstande dat geen stappe vir skorsing teen 'n lid van die Genootskap geneem sal word nie, alvorens die Genootskap nie minstens 30 dae voor die datum van die Raadsvergadering waarop sodanige skorsing behandel sal word, 'n geregistreerde brief aan so 'n lid gerig het waarin hy in kennis gestel word van sy voorgestelde skorsing en waarin daar 'n beroep op hom gedoen word om persoonlik of indien hy so verkies, deur sy behoorlik gemagtigde verteenwoordiger, sy kant van die saak op die Raadsvergadering te stel.

Die Raad of enige Komitee van die Raad sal geregtig wees om behoorlik navraag te doen in verband met die gedrag van 'n lid en om sodanige inligting by so 'n plek, persoon, firma en/of instansie in ontvangs te neem en daarop te handel op so 'n wyse as wat die Raad mag goeddink.

Die gewone reëls wat betref die lewering van getuienis sal nie van toepassing wees op sodanige bona fide navraag nie en geen lid sal enige aksie, eis en/of reg van verhaal teen die Raad of sy Komitee hê in verband met enige aangeleentheid en/of saak wat voortspruit uit sodanige navraag of inligting wat bekom was nie.

6.3 Enige lid wat geskors is, moet deur die Sekretaris skriftelik daarvan in kennis gestel word binne drie dae na die datum waarop die besluit met betrekking tot sy skorsing goedgekeur is.

6.4 Na sodanige skorsing van 'n lid mag die Raad aan die Sekretaris opdrag gee om sy naam uit die Kuddeboek en enige ander registers of verslae van die Genootskap te verwyder en by die Vereniging aansoek te doen vir die kansellering van alle registrasies ten opsigte van diere wat deur die geskorste lid geteel is en ten tyde van sy skorsing in sy besit was. Die Raad mag verder van die geskorste lid verlang om onverwyld alle registrasiesertifikate ten opsigte van diere wat ten tyde van sy skorsing in sy besit was, aan die Genootskap te oorhandig.

6.5 Vanaf datum van skorsing sal geen diere wat daarna deur die geskorste lid geteel word, oorgedra of geregistreer word nie, geen geboortekennisgewing van hom ontvang sal aanvaar word nie en hy sal dienooreenkomstig in kennis gestel word.

6.6 Enige persoon wat opgehou het om lid van die Genootskap te wees, mag weer vir lidmaatskap in aanmerking kom ooreenkomstig die bepalings van Klousule 4.3 en nadat alle agterstallige skulde vereffen is.

6.7 Enige lid wie geskors word is en bly aanspreeklik vir alle gelde deur hom verskuldig aan die Genootskap soos op datum van skorsing.

6.8 Opheffing van Stemreg

6.8.1 Enige lid wat vir 'n termyn soos wat die Raad van tyd tot tyd mag bepaal geen Braunviehs in sy naam laat registreer het nie of wat nie geregistreerde beeste gedurende sodanige tydperk aangekoop het waarvan die oordragte in sy naam geregistreer is nie, sal sy stemreg waarna in Klousule 4.4(c) verwys word, verbeur.

6.8.2 Die stemreg van geen lid sal opgehef word mits hy nie ten minste 30 dae voor die vergadering waarop sodanige opheffing in werking sal tree daarvan skriftelik deur die Sekretaris in kennis gestel is nie.

6.8.3 Sodanige opheffing van stemreg van 'n lid sal van krag bly totdat hy weer Braunviehs laat registreer waarna die opheffing van sy stemreg onmiddellik beëindig sal word sonder dat enige kennisgewing te dien effekte aan hom gegee moet word.

6.8.4 Die opheffing van stemreg op die hierin vermelde wyse sal geensins die ander regte en/of verpligting van lidmaatskap affekteer nie.


7. REGISTER VAN LEDE

7.1 Die Genootskap sal 'n register van alle lede hou waarin alle inligting, soos van tyd tot tyd deur die Raad bepaal, ingeskryf moet word.

7.2 Elke lid moet die Genootskap skriftelik of per elektroniese pos van 'n verandering van sy posadres/eposadres in kennis stel en alle kennisgewings of publikasies wat aan 'n lid se aangetekende adres (posadres / eposadres) gestuur is, sal beskou word as behoorlik op sodanige lid bestel te wees.

7.3 Alle stukke wat per aangetekende of geregistreerde pos/elektroniese pos deur die Bestuurder aan lede se aangetekende adres versend is, sal beskou word as behoorlik op sodanige lid bestel te wees.

7.4 Die Sekretaris sal die Vereniging met inligting voorsien soos verlang met betrekking tot nuwe lidmaatskappe, bedankings en skorsing van lede (vir watter rede ookal), en posadresse/eposadresse van lede.


8. BESTUUR

8.1 Samestelling en Verkiesing van die Raad

Die belange van die Genootskap sal beheer en bestuur word deur „n Raad wat uit die volgende ses lede sal bestaan en wat vir „n termyn van twee jaar tydens die Algemene Jaarvergadering verkies word: Drie lede sal jaarliks in siklusse verkies word.

  • 'n President;
  • 'n Vise-President; en
  • vier lede.

8.2 Metode van Verkiesing

Verkiesing in die vergadering sal per geslote stembrief geskied. Sodanige stembrief sal geen nommer en/of handtekening bevat om die identiteit van die stemgeregtigde te openbaar nie.

8.3 Addisionele Raadslede

Benewens die vyf verkose lede mag daar ook die volgende persone wees wat op die Raad mag dien –

8.3.1 Die Sekretaris

Die Sekretaris, of in sy afwesigheid 'n ander senior amptenaar van die Genootskap, wat alle vergaderings van die Genootskap sal bywoon en die reg het om aan besprekings deel te neem, maar egter nie stemreg sal hê nie.

8.4 Indien 'n lid van die Raad te sterwe kom, bedank, ophou om lid van die Genootskap te wees of sy amp verbeur ingevolge Klousule 8.6, kan die Raad 'n ander lid van die Genootskap aanwys as sy plaasvervanger met volle magte tot die volgende Algemene Jaarvergadering waar daar dan 'n plaasvervanger verkies sal word vir die res van sy dienstermyn. Die Raad sal as behoorlik gekonstitueer beskou word en sal voortgaan om al die magte wat aan hom opgedra is uit te voer, nieteenstaande enige vakatures wat daarin mag ontstaan.

8.5 In die geval waar die amp van President of Vise-President vakant raak voor die verstryking van die tydperk waarvoor hy tot die Raad verkies is, moet die Raad by sy daaropvolgende vergadering per geslote stembriefies persone uit sy geledere nomineer en een verkies om die vakature vir die onverstreke tydperk te vul.

8.6 Lede van die Raad wat van twee agtereenvolgende vergaderings van die Raad afwesig was sonder toestemming of grondige rede, sal hul amp outomaties verbeur.

8.7 Uitvoerende Komitee

Die Uitvoerende Komitee van die Raad, wat magte sal beklee soos van tyd tot tyd deur die Raad bepaal, sal bestaan uit die President en/of Vise-President, Ere-Tesourier en een lid wat jaarliks na die verkiesing van die Raad deur die Raad verkies word. Alle verrigtinge of besluite van die Uitvoerende Komitee moet op die daaropvolgende Raadsvergadering goedgekeur word.


9. MAGTE EN PLIGTE VAN DIE RAAD

Die Raad het, onderworpe aan die bepalings van die Grondwet en die besluit van die Genootskap soos van tyd tot tyd geneem word, die mag om sodanig op te tree as wat in belang van die Genootskap is, of vir die bevordering en volvoering van sy doelstellings wat nodig of wenslik geag mag word. In besonder het die Raad die mag om –

  • na goeddunke sodanige ouditeure, prokureurs of ander regsverteenwoordigers, agente, ampsdraers of amptenare of ander werknemers permanent, tydelik of met die oog op spesiale dienste aan te stel, te ontslaan, of te skors; om hulle magte en pligte te bepaal, hul vergoeding en diensvoorwaardes vas te stel en om sodanige voorsorg te tref vir die behoorlike uitvoering van hul pligte as wat in besondere gevalle raadsaam geag mag word;
  • 'n geding in te stel, te voer, te laat voer, te verdedig, of 'n skikking aan te gaan ten opsigte van enige geregtelike stappe deur of teen die Genootskap of teen enige van sy ampsdraers of amptenare of ander werknemers in verband met die aangeleenthede van die Genootskap; en om enige skulde wat betaalbaar is te verminder, of uitstel te verleen vir die afbetaling daarvan of die voldoening aan enige eise of aanskrywing deur of teen die Genootskap;
  • een of meer bankrekenings namens die Genootskap te open en enige wissel, skuldbewys, tjek of ander verhandelbare dokument wat op sake van die Genootskap betrekking het te trek, te aanvaar, te endosseer, aan te gaan of uit te voer;
  • enige gelde wat nie vir die onmiddellike behoeftes van die Genootskap nodig is nie te belê of op enige ander wyse te behartig teen sodanige sekuriteite en op sodanige voorwaardes soos die Raad mag goedvind en van tyd tot tyd enige sodanige beleggings te verander of te onttrek: Met dien verstande dat fondse beskikbaar vir belegging slegs belê mag word by geregistreerde finansiële instellings soos omskryf in Artikel 1 van die Wet op Finansiële Instellings (Belegging van Fondse), 1984, en in effekte genoteer op gelisensieerde effek-tebeurse soos omskryf in Artikel 1 van die Wet op Beheer van Effektebeurse, 1985 (Wet No 1 van 1985);
  • op sekuriteit van enige eiendom van die Genootskap geld vir die Genootskap te leen; betaling van lenings op enige wyse te sekureer, insluitende die verhipotekering of verpanding van goed, en sonder om afbreuk te doen aan die algemeenheid daarvan, in besonder deur die uitreiking van die soort skuldbrief of skuldbriefeffekte, met of sonder sekuriteit;
  • geboue, grond, goedere, roerende bates en besittings te koop, te huur, op verband te neem of vir die Genootskap aan te skaf; om roerende goedere of vaste eiendom van die Genootskap te verkoop, te verpand, te verhuur, te vervreem of andersins daarvan ontslae te raak en die vergoeding daaruit verkry op so 'n wyse aan te wend as wat tot die grootste voordeel van die Genootskap gereken mag word;
  • vrywarings en waarborge en borgstellings aan te gaan en betaling daarkragtens op enige wyse te sekureer;
  • die dienste van enige persoon of lid van die Genootskap te koöpteer en om subkomitees te benoem op sodanige voorwaardes en sodanige magte aan hul te verleen as wat van tyd tot tyd wenslik geag mag word. Die President en Vise-President van die Genootskap is ex officio-lede van alle subkomitees met alle regte en voorregte;
  • inspekteurs aan te stel om alle geregistreerde diere te keur en vir die doel van enige ander werksaamhede waarvoor lede van die Genootskap die dienste van inspekteurs mag verlang en om aan sodanige inspekteurs opdragte te gee en magte te verleen met betrekking tot hul pligte om te verseker dat die doelstellings van die Genootskap uitgevoer word, of om hulle te ontslaan;
  • 'n sisteem van beoordeling en keuring ten opsigte van inspeksie van Braunviehs in te stel en om reëls, voorwaardes, en terme aangaande sodanige inspeksies, en met betrekking tot keuring te formuleer: Met dien verstande dat wanneer die Raad enige sodanige reëls òf herroep òf op enige ander wyse verander het, sodanige reëls by die eersvolgende algemene vergadering van die Genootskap vir die inligting van sodanige vergadering voorgelê moet word;
  • opdrag te gee aan inspekteurs en/of ander amptenare van die Genootskap om ondersoek in te stel na gevalle waar daar nie behoorlik rekords gehou word nie of waar daar twyfel mag ontstaan met betrekking tot die identiteit van 'n dier en om sodanige stappe te neem soos in die belang van die Genootskap wenslik geag mag word;
  • enige persoon of persone vir dienste gelewer te vergoed en pensioen- en ander aansporingskemas en gratifikasies ten opsigte van ampsdraers en werknemers tot stand te bring;
  • algemene vergaderings van die Genootskap te belê, òf na aanleiding van 'n spesiale versoek daartoe wat volgens die bepalings van die Grondwet gerig is, òf andersins indien dit noodsaaklik geag word;
  • aan enige lid van die Raad of enige amptenaar of werknemer van die Genootskap verlof tot afwesigheid toe te staan vir enige tydperk en op sodanige voorwaardes as wat in elke geval bepaal mag word;
  • sodanige strawwe of boetes op te lê of af te dwing as wat van tyd tot tyd vir lede van die Genootskap bepaal mag word vir die oortreding of skending van die Grondwet of die reëls en regulasies van die Genootskap;
  • onderhewig aan die bepalings van Klousule 5, die ledegelde of verpligtinge van lede van tyd tot tyd te wysig of aan te pas en om enige bykomende gelde en verpligtinge voor te skryf soos nodig geag mag word;
  • al die kostes en rekeninge met betrekking tot die administrasie en bestuur van die Genootskap te betaal;
  • aansoeke om lidmaatskap te ontvang en te oorweeg en dit na eie oordeel te aanvaar of af te wys;
  • gelde, donasies en ander skulde en fondse in te samel en te ontvang en dit tot voordeel van die Genootskap en bevordering van die Braunvieh aan te wend;
  • reëls en regulasies met betrekking tot die beheer van sake en die uitvoer van die doelstellings van die Genootskap op te stel, te wysig of op te hef;
  • ondersoek in te stel na geskille wat uit die toepassing van die Grondwet mag ontstaan en om uitsluitsel daaromtrent te gee;
  • ondanks enige strydige bepalings in hierdie Grondwet vervat, met die goedkeuring van die Algemene Jaarvergadering, vrystelling te verleen van enige bepalings van hierdie Grondwet of versagting in gevalle van meriete soos deur die Raad besluit;
  • enige bylae wat by die Grondwet aangeheg is, te verander of te wysig soos van tyd tot tyd nodig geag mag word;
  • verkope van diere te organiseer en te bevorder, hetsy deur openbare veilings of uit die hand en om vir hierdie doel afslaers en agente aan te stel;
  • verteenwoordigers op die Algemene Jaarvergadering van die Vereniging aan te stel en om 'n persoon of persone te benoem om die Genootskap op enige komitee, liggaam of organisasie te verteenwoordig;
  • een of meer lede of amptenare aan te stel met die gesag om namens die Genootskap dokumente te onderteken, wat ook onder andere dokumente, aktes en kontrakte aangegaan buite die Republiek insluit, stukke en gegewens te ontvang, geregtelike stappe te doen, op te tree, 'n eis in te stel, of gedagvaar te word, sodat die sake van die Genootskap beter en gemakliker uitgevoer en afgehandel kan word gedagvaar te word, sodat die sake van die Genootskap beter en gemakliker uitgevoer en afgehandel kan word;
  • ooreenkomstig Klousule 6, die lidmaatskap van enige persoon te beëindig;
  • ooreenkomstig Klousule 5.3, te weier om inspeksie-, registrasie- en ander werk vir lede te doen indien hulle uitstaande skuld by die Genootskap het;
  • rasstandaarde op te stel en minimum vereistes en ander standaarde neer te lê waarvol-gens –
    • diere deur inspekteurs geïnspekteer word vir bevestiging of kansellasie van registrasie;
    • onderworpe aan die bepalings van die Wet, aansoeke vir die in- en uitvoer van diere;
    • semen- en eiselskenkers ingevolge die Wet goed te keur vir embrio-oorplasing doeleindes; en
    • bulle ingevolge die bepalings van die Wet aanbeveel word vir goedkeuring vir die verkoop van semen;
  • sodanige reëls en voorwaardes op te stel met betrekking tot die kwalifikasies en benoeming van beoordelaars van die ras as wat nodig geag mag word: Met dien verstande dat geen persoon as beoordelaar van die ras aangestel sal word alvorens hy voldoen aan sodanige vereistes as wat deur die Raad bepaal mag word nie. Verder om van tyd tot tyd die paneel van beoordelaars in heroorweging te neem en om daaruit sodanige name te verwyder as wat nodig geag mag word; en
  • in die algemeen alles wat nodig is te doen met die oog op die welvaart van die Genootskap en die hantering van sy sake, altyd op voorwaarde dat enige stappe wat gedoen word of opdragte wat gegee word, nie teenstrydig sal wees met die bepalings van die Wet en die Grondwet nie.


10. VERGADERINGS

10.1 Uitvoerende Komiteevergaderings

Die Uitvoerende Komitee sal wanneer nodig vergader om die pligte wat deur die Raad aan hom opgedra is, uit te voer.

10.1.1 'n Raadslid mag die President versoek om persoonlik enige sake van belang voor die Uitvoerende Komitee te lê. Op voorwaarde dat hy die saak vooraf volledig op skrif sal stel. Indien die President besluit dat die saak van genoegsame belang en dringendheid is, mag hy verlof verleen dat so 'n Raadslid die Uitvoerende Komiteevergadering bywoon om, met toestemming van die Komitee, die vergadering toe te spreek.

10.1.2 Indien die President nie die saak van genoegsame belang ag nie mag hy die versoek weier en, indien hy so oordeel, toesien dat die aangeleentheid op die sakelys van die vergadering geplaas word.

10.2 Raadsvergaderings

10.2.1 Die Raad sal op sodanige tyd en plek vergader as wat deur die Raad bepaal mag word, of soos wat die President of in sy afwesigheid die Vise-President mag besluit: Op voorwaarde dat minstens twee Raadsvergaderings gedurende elke flnansiële jaar gehou sal word.

10.2.2 ‘n Spesiale Raadsvergadering

  • mag deur die President (of in sy afwesigheid deur die Vise-President) belê word op sodanige tyd en plek as wat sodanige ampsbekleër mag besluit, of
  • sal belê word op grond van 'n aansoek onderteken deur nie minder nie as twee Raadslede waarin die redes vir die vergadering gemeld word. Sodanige aansoek moet aan die Sekretaris gerig word.

10.2.3 Skriftelike kennisgewing van die tyd, datum en plek van 'n voorgenome Raadsver-gadering moet nie minder nie as 21 dae voor die vergadering sal plaasvind, deur die Sekretaris aan elke lid van die Raad gepos word.

10.2.4 Geen besluit van die Raad sal gewysig of verander kan word nie, tensy die besluit om dit te wysig of te verander deur 'n vergadering, waarvan nie minder nie as 14 dae kennis aan alle Raadslede gegee is en waarin die redes vir die wysiging of verandering van die besluit duidelik uiteengesit is: Met dien verstande dat 'n besluit sonder kennisgewing gewysig mag word indien al die lede van die Raad teenwoordig is.

10.3 Algemene Vergaderings

10.3.1 'n Algemene vergadering van die Genootskap wat bekend staan as die Algemene Jaarvergadering word een keer in 'n finansiële jaar gehou op so 'n tyd en plek as wat die Raad mag bepaal.

10.3.2 By so 'n Algemene Jaarvergadering sal die Raad sy jaarverslag aan die Genootskap voorlê, tesame met rekeningkundige rekords en finansiële state.

10.3.3 'n Spesiale Algemene Vergadering van die Genootskap mag te eniger tyd belê word deur -

  • die Raad; of
  • die President (of in sy afwesigheid die Vise-President);
    en sal in laasgenoemde geval belê word op grond van 'n skriftelike / per elektroniese pos aansoek daartoe wat aan die Sekretaris gerig is en wat deur nie minder nie as tien lede van die Genootskap onderteken is. So 'n aansoek moet die doelstellings van die vergadering duidelik uiteensit en gedurende sodanige vergadering mag slegs die gemelde sake behandel word.

10.3.4 'n Voorlopige kennisgewing van die tyd, datum en plek van 'n Algemene Jaarver-gadering moet minstens 60 dae voor die vergadering deur die Sekretaris aan elke lid gepos / per elektroniese pos gestuur word. Enige lid wat van plan is om enige saak by die Algemene Jaarver-gadering vir bespreking voor te lê, moet die Sekretaris nie minder nie as 40 dae voor die vergadering, skriftelik / per elektroniese pos daarvan in kennis stel. Geen onderwerp wat deur enige lid voorgestel is, sal op die sakelys van die Algemene Jaarvergadering geplaas word indien die verlangde kennisgewing van die voorstel nie ooreenkomstig hierdie subklousule gegee is nie.

10.3.5 'n Finale kennisgewing van die tyd, datum en plek waarop enige algemene vergadering gehou sal word, tesame met die sakelys vir die vergadering, moet minstens 30 dae voor die vergadering aan elke lid van die Genootskap gepos word of per elektroniese pos gestuur word.

10.3.6 Daar sal geen besluit op 'n algemene vergadering geneem word tensy kennis daarvan op die sakelys, wat tesame met die kennisgewing van vergadering aan lede gestuur is verskyn nie, of tensy so 'n vergadering met 'n twee-derde-meerderheid van stemme, van lede wat teenwoordig is en stemgeregtig is, besluit om enige saak wat nie spesifiek op die sakelys is nie, te bespreek en daaroor te stem, ongeag die bepaling van Klousule 10.3.3.

10.3.7 Enige algemene vergadering mag verdaag word deur 'n twee-derde-meerderheid-stem van die lede wat daarby teenwoordig is.

10.3.8 Vir die doel om besluite op 'n Algemene Jaarvergadering geneem, te herroep, word 'n twee-derde-meerderheid op 'n algemene vergadering vereis.

10.4 Voorsitter by Vergaderings

Die President beklee die voorsitterstoel by alle vergaderings en indien hy afwesig is beklee die Vise-President die amp. Indien nie een van hierdie ampsdraers by 'n vergadering teenwoordig is nie, mag die lede wat teenwoordig is 'n ander lid verkies om by sodanige vergadering die voorsitterstoel te beklee en enige persoon wat op so 'n manier verkies is, sal met betrekking tot daardie vergadering oor die mag beskik om al die pligte van die President uit te voer.

10.5 Neem van Besluite

Alle sake wat voor enige vergadering gelê word, tensy andersins in hierdie Grondwet voorsien, moet besleg word deur die meerderheid van stemme van die lede wat by die vergadering teenwoordig en stemgeregtig is en in die geval van 'n staking van stemme sal die persoon wat by daardie vergadering die voorsitterstoel inneem benewens sy gewone stem, ook 'n beslissende stem hê.

10.6 Metode van Stemming

Onderworpe aan die bepalings van Klousule 8, sal stemming by alle vergaderings met die opsteek van hande geskied, tensy enige teenwoordige lid stemming per briefies verlang, in welke geval stemming per geslote stembriefies sal geskied.

10.7 Ongeldigheid van Besluite

Geen saak wat behoorlik en grondwetlik op enige vergadering afgehandel is, kan ongeldig verklaar word slegs weens die feit dat enige lid geen kennisgewing kragtens die vereistes van die Grondwet ontvang het nie.

10.8 Kworums

10.8.1 Twee lede wat persoonlik teenwoordig is by enige Uitvoerende Komitee-vergadering sal 'n kworum vorm vir sodanige Uitvoerende Komiteevergadering.

10.8.2 Drie Raadslede wat persoonlik teenwoordig is by enige Raadsvergadering en wat stemgeregtig is sal 'n kworum vorm vir so 'n Raadsvergadering.

10.8.3 Vyf van die lede van die Genootskap wat persoonlik teenwoordig is by die aanvang van enige algemene vergadering sal 'n kworum vorm vir so 'n vergadering.

10.8.4 Indien daar by enige vergadering nie 'n kworum teenwoordig is nie kan die vergadering verdaag tot 'n tyd (nie minder nie as 14 dae daarna) en plek wat deur die lede persoonlik teenwoordig bepaal word. Op so 'n uitgestelde vergadering vorm die teenwoordige lede wel 'n kworum: Met dien verstande dat enige vergadering waar daar geen kworum is nie, maar waar die President of Vise-President teenwoordig is, vir 'n halfuur verdaag moet word waarna die lede wat dan teenwoordig is, 'n kworum vorm vir die afhandeling van sodanige sake (behalwe grondwetlike wysigings) as wat deur die lid wat die voorsitterstoel beklee, dringend mag verklaar. Sodanige verdaging vir 'n halfuur sal nie tot nadeel van die regte van die vergadering wees nie om nadat aandag aan die noodsaaklike aangeleenthede gee is, te verdaag tot 'n tyd en plek soos hierin bepaal.

10.8.5 Sodra 'n vergadering op so 'n wyse uitgestel word, sal 'n kennisgewing binne sewe dae na die vergadering aan alle lede gestuur word per pos / elektroniese pos waarin die datum, plek en tyd van die uitgestelde vergadering en die rede vir sodanige vergadering gemeld word.

10.9 Notules van Vergaderings

10.9.1 'n Elektroniese afskrif van die notules van alle algemene vergaderings sal aan elke lid van die Genootskap voorsien word. Elektroniese afskrifte van die notules van Raadsvergaderings en Subkomiteevergaderings sal aan alle persone voorsien word wat op die Raad en sodanige komitees dien. Lede wat nie beskik oor elektroniese posgeriewe nie, moet alle dokumentasie per harde kopieë ontvang en wel teen direkte koste.

10.9.2 Die notule van alle vergaderings geteken deur die President of 'n persoon wie die voorsitterstoel beklee gedurende die daaropvolgende vergadering, sal bewys wees daarvan dat alle verrigtinge behoorlik geskied het en dat alle verkiesings, aanstellings en besluite aanvaar gedurende sodanige vergadering, bindend en van krag is.


11. FlNANSlëLE BEPALINGS

11.1 Die Raad sal een of meer bankrekenings namens die Genootskap open, waarin alle gelde wat die Genootskap ookal mag ontvang, gedeponeer moet word.

11.2 Alle betalings uit die fondse van die Genootskap word per tjek gedoen en die tjeks moet deur die Sekretaris of 'n persoon wat deur die Raad daartoe aangestel is, geteken en mede-onderteken word deur sodanige persoon of persone as wat deur die Raad daartoe gemagtig is, ooreenkomstig Klousule 9(y): Op voorwaarde dat niks wat hierin vervat is die Raad sal verhoed om 'n kleinkasfonds in stand te hou en te beheer nie. Ook kan sodanige gereelde en gewone maandelikse rekenings wat nie 'n bedrag wat deur die Raad bepaal is, oorskry nie, betaal word: Op voorwaarde dat die totale bedrag wat nodig is vir die betaling van sodanige rekenings per tjek getrek word.

11.3 Die Raad moet toesien dat die Genootskap behoorlike rekeningkundige praktyke volg. Rekeningkundige rekords en Finansiële state moet dus jaarliks deur ten minste 'n rekeningkundige beampte voorberei word wat geregistreer is by die SAICA of SAIPA. Die Rekenmeester moet toesien dat behoorlike rekenkundige praktyke toegepas word.

11.4 Al die besittings van die Genootskap is gevestig in die Raad.

11.5 Die inkomste en besittings van die Genootskap, uit watter bron ookal ontvang, insluitende profyte en winste, sal enkel en alleen aangewend word ter bevordering van die doelstellings van die Genootskap en geen deel daarvan sal direk of indirek as dividend of bonus of andersins betaal of oorgedra word aan enige persone wat te eniger tyd lede van die Genootskap is of was nie: Op voorwaarde dat niks wat hierin vervat is die betaling in goeder trou aan enige werknemer of ander persoon vir dienste wat aan die Genootskap gelewer is, kan verhoed nie.

11.6 Die finansiële jaar van die Genootskap neem 'n aanvang op 1 Julie van elke jaar en sluit op 30 Junie van die volgende jaar.


12. AFFILIASIES

Die Genootskap -

  • sal, onderworpe aan die bepalings van die Wet, 'n lid van die Vereniging wees en sal sodanige lidmaatskap in stand hou op die voorwaardes soos in die Konstitusie van die Verening bepaal; en
  • kan verder met enige vereniging, genootskap of organisasie waarvan die doelstellings met dié van die Genootskap ooreenstem affilieer of inkorporeer op voorwaarde dat so 'n besluit goedgekeur word deur minstens twee-derdes van die stemgeregtigde lede wat by enige algemene vergadering van die Genootskap persoonlik teenwoordig is en stem.


13. VERKIESING VAN VERTEENWOORDIGER/S TOT DIE ALGEMENE JAARVERGADERING VAN DIE VERENIGING

Die President van die Genootskap sal die verteenwoordiger van die Genootskap wees met die Vise-President of enige ander raadslid as sy sekundus. Indien die Genootskap kwalifiseer om meer as een verteenwoordiger te hê sal sodanige verteenwoordiger deur die Raad van die Genootskap verkies word.


14. GRONDWETLIKE WYSIGINGS

14.1 Byvoegings tot, of wysigings of veranderings van die Grondwet mag slegs aangebring word deur 'n meerderheidsbesluit van nie minder nie as twee-derdes van die lede wat by 'n algemene vergadering van die Genootskap teenwoordig en stemgeregtig is en stem. Ook moet van die voorgestelde wysigings of byvoegings van die Grondwet asook van die vergadering skriftelik / per elektroniese pos kennis gegee word aan elke lid van die Genootskap nie minder nie as 30 dae voor die vergadering.

14.2 Sodanige byvoeging tot, of wysiging van die Grondwet wat goedgekeur is soos in Klousule 14.1 hiervan beskryf, moet binne 30 dae nadat die wysiging aangebring is aan die Vereniging en die Registrateur voorgelê word en dit sal 30 dae nadat dit aldus voorgelê is, in werking tree: Met dien verstande dat indien die Registrateur enige tyd binne hierdie 30 dae periode die Vereniging en die Genootskap in kennis stel dat hy van mening is dat die byvoeging en wysiging onbestaanbaar is met die bepalings van die Wet sodanige byvoeging en wysiging van nul en gener waarde sal word.

14.3 Enige wysiging van die Grondwet moet deur die Genootskap aan die Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens voorgelê word.


15. KANTOOR VAN DIE GENOOTSKAP

Die kantoor van die Genootskap sal op 'n plek wees soos wat die Raad mag bepaal.


16. ONTBINDING VAN DIE GENOOTSKAP

Indien daar na die beëindiging of ontbinding van die Genootskap, en nadat al die skulde en verpligtinge nagekom is, enige bates oorbly, sal sodanige bates nie onder die lede van die Genootskap verdeel of aan hul uitbetaal word nie, maar geskenk of oorgedra word aan sodanige ander instelling waarvan die doelstellings ooreenstem met dié van die Genootskap, soos deur die meerderheid op 'n algemene vergadering van die Genootskap besluit en wat opsigself vrygestel is van die betaling van inkomstebelasting kragtens Artikel 10(1)(cA)(i) van die Inkomstebelastingwet.


17. VRYWARING

Lede van die Raad en van die Genootskap wat betrokke is by Genootskapwerksaamhede in opdrag van die Raad, word hiermee vrygestel van enige eise, verliese of uitgawes voortspruitende uit sodanige werksaamhede: Op voorwaarde dat hulle bona fide opgetree het en nie skuldig was aan pligsversuim of oneerlikheid nie.


18. OUTENTIEKE LESING VAN HIERDIE GRONDWET

Aangesien hierdie Grondwet en die bygaande Bylaes in Afrikaans opgestel, ingedien en oorweeg is, word die Afrikaanse weergawe as outentiek beskou.


19. WERKNEMERS VAN DIE GENOOTSKAP

Geen werknemer van die Genootskap mag, behalwe in die uitvoering van sy pligte as sodanige werknemer, enige diens lewer of by enige besigheid in verband met die koop en verkoop van diere betrokke wees nie.


20. OORDRAG VAN BEVOEGDHEDE

Ondanks enige bepalings in die Grondwet strydig hiermee, mag enige lid deur 'n volmagprokurasie, behoorlik uitgereik en deur die Sekretaris geliasseer, 'n ander persoon volmag gee om namens hom geboortekennisgewings/aansoeke om registrasie, oordragsertifikate, dekkingsertifikate, opgawes of verslae of enige ander dokumente met betrekking tot die administrasie van 'n kudde te onderteken. Enige sodanige handtekening deur so 'n ten volle gemagtigde persoon sal deur die Genootskap as net so geldig en bindend aanvaar word asof dit die lid se eie handtekening is: Op voorwaarde dat niks wat hierin vervat is, so 'n gevolmagtigde persoon daartoe in staat sal stel om op enige moontlike manier deel te neem aan die nominering van, of stemming vir, enige Raadslid, of stemming oor enige aangeleentheid waaroor sy prinsipaal stemreg het of om enige vergadering namens sy prinsipaal by te woon nie.


21. NIE-LEDE

Sodanige voordele van lidmaatskap as wat die Raad mag bepaal, mag aan nie-lede verleen word: Met dien verstande dat geen wetlike of ander verpligting op die Genootskap sal rus ten opsigte van sodanige nie-lede nie en op verdere voorwaarde dat alle gelde met betrekking tot enige dienste wat deur die Genootskap aan nie-lede gelewer word, sal wees soos wat van tyd tot tyd deur die Algemene Jaarvergadering bepaal. Sodanige gelde sal vooruitbetaalbaar wees.

 


VERORDENINGE

1. KUDDEBOEK

1.1 Afdelings

Die Genootskap sal toesien dat die Vereniging rekord hou van alle geregistreerde Braunvieh-beeste en dat die Kuddeboek, wat bekend sal staan as die Suid-Afrikaanse Braunvieh-kuddeboek uit die volgende twee afdelings sal bestaan, nl.

  • Hulpstamboekafdeling, en
  • Volgeregistreerde Afdeling van die Kuddeboek.

1.1.1 Hulpstamboekafdeling

  • Hulpstamboek A
    Enige vroulike dier wat uit 'n kudde kom waarvan die teler 'n bevredigende verslag van afstamming aan die Raad kan verstrek en wat aan die minimum rasstandaarde voldoen, sal vir registrasie in die Hulpstamboek A Afdeling in aanmerking kom.
  • Hulpstamboek B
    Die vroulike afstammelinge van die parings van Hulpstamboek A koeie en Volgeregistreerde bulle sal vir registrasie in die Hulpstamboek B Afdeling in aanmerking kom op voorwaarde dat hulle aan die minimum rasstandaarde en aan al die ander vereistes ten opsigte van registrasie voldoen.

1.1.2 Volgeregistreerde Afdeling van die Kuddeboek

Vir hierdie afdeling van die Kuddeboek kom die volgende diere, indien hulle voldoen aan die minimum rasstandaarde en aan al die ander vereistes ten opsigte van registrasie, in aanmerking vir registrasie -

  • alle afstammelinge van Hulpstamboek B-koeie en Volgeregistreerde bulle van die ras; en
  • alle afstammelinge van Volgeregistreerde diere.

1.2 Onthoringde of Poenskop Diere

1.2.1 Die onthoring van diere word toegelaat. Onthoringde en gehoringde diere sal nie in aparte afdelings van die Kuddeboek registreer word nie.

1.2.2 In hierdie Verordening beteken “poenskop” 'n natuurlike poenskop en sluit dit “los horinkies” in.

1.2.3 Alle diere wat poenskop of met los horinkies gebore word, sal tydens registrasie die toepaslike letters, soos in Verordening 1.2.4 uiteengesit, toegeken word welke letters onder die naam van die dier op die registrasiesertifikaat gedruk sal word.

1.2.4 Die toepaslike letters is as volg:

  • P : 'n Poenskop dier soos omskryf in Verordening 1.2.2 en/of 'n dier waarvan een of albei ouers “P” of “PP” is.
  • PP : 'n Dier wat 'n natuurlike poenskop is en waarvan albei die ouers “P” of “PP” is.


2. VOORVOEGSEL EN KUDDEKENMERK

2.1 Diere sal nie vir registrasie aanvaar word nie tensy die teler voor die tyd, deur die Genootskap, by die Vereniging vir sy uitsluitlike gebruik, 'n voorvoegsel registreer waardeur al die diere wat deur hom geteel is en geregistreer word, onderskei sal word.

2.2 Geen voorvoegsel mag 18 karakters oorskry nie, en die naam van 'n dorp, poskantoor of stad in die Gebied sal nie aanvaar word vir registrasie as 'n voorvoegsel nie.

2.3 Die kuddekenmerk, soos by die Vereniging geregistreer vir die teler se uitsluitlike gebruik, mag nie vier spasies oorskry nie en sal uit letters bestaan.

2.4 Aansoek om registrasie van sodanige voorvoegsel en kuddekenmerk word by die Genootskap gedoen en moet vergesel gaan van sodanige registrasiegelde as wat van tyd tot tyd deur die Raad of die Vereniging bepaal mag word.

2.5 Kenmerkletters

Die kenmerkletters sal deur die Genootskap toegeken word aan telers namate hulle aansoek doen.

2.6 Die oordrag van 'n voorvoegsel van een teler na 'n ander sal nie toegelaat word nie behalwe onder sodanige omstandighede en aan sodanige persone as waarvoor in die Verordeninge van die Konstitusie van die Vereniging voorsiening gemaak word.


3. IDENTIFIKASIE

3.1 Die Genootskap se amptelike stelsel van permanente identifikasie van diere wat vir registrasie in die kuddeboek in aanmerking kom, is oortatoeëring.

3.2 Die identifikasie van kalwers sal bestaan uit -

  • kuddekenmerkletters wat nie meer as VIER spasies mag beslaan nie;
  • 'n jaarsyfer wat sal bestaan uit die laaste TWEE syfers van die jaar waarin die dier gebore is; en
  • 'n volgnommer van elke dier wat nie meer as VIER syfers sal beloop nie, en nie elke jaar by die nommer EEN hoef te begin nie.

3.3 Elke kalf moet binne 60 dae na geboorte deur die teler geïdentifiseer word.

3.4 Wanneer identifikasiemerke eenmaal aan 'n dier aangebring is, selfs as dit foutief, vaag, defektief of onleesbaar is, mag dit onder geen omstandighede reggemaak, verbeter, verander of gewysig word nie, tensy die Sekretaris vooraf skriftelik daartoe toestemming gee nie.

3.5 Indien 'n teler met die identifikasie van 'n dier 'n fout begaan, of wanneer die identifikasiemerk vaag of onleesbaar word, moet die eienaar van die dier die Genootskap skriftelik daarvan in kennis stel en die dier sal dan weer getatoeëer word in die teenwoordigheid van 'n inspekteur wat deur die Raad daartoe aangestel is nadat sodanige inspekteur oortuig is van die ware identiteit van die dier.

3.6 Daar mag geen byvoeging van enige ander tatoeëermerke, van watter aard ookal, in die ore of liggaam van 'n dier deur die teler of eienaar daarvan of deur sy agent aangebring word nie en dit word ten strengste verbied en diere wat sulke merke dra, mag blootgestel word aan diskwalifikasie.

3.7 Behalwe vir die moontlike verpligte merk/brand van diere soos bepaal deur wetgewing of die vrywillige merk/brand van diere geregistreer in die Volgeregistreerde Afdeling van die Kuddeboek met die geregistreerde brandmerk van die Vereniging, of soos voorgeskryf deur die Nasionale Vleisbeesverbeteringskema, is die aanbring van enige ander brand hoegenaamd, deur die teler of eienaar of sy agent, streng verbode en die registrasiesertifikaat van enige dier so gemerk sal gekanselleer word.

3.8 Geen dier mag verkoop of oorgedra word indien die dier nie duidelik geïdentifiseer is nie.


4. NAME

4.1 Geen dier sal in aanmerking kom vir inskrywing in die Kuddeboek nie tensy die dier duidelik gemerk en uitdruklik van 'n naam of nommer, wat die naam verteenwoordig, voorsien is. Die Raad het die reg om enige aansoek ten opsigte van 'n dier wat na sy oordeel nie duidelik gemerk is nie, of 'n misleidende naam het, te weier.

4.2 Die naam sal die voorvoegsel wat vir die teler geregistreer is insluit, en insluitende die voorvoegsel, mag geen naam uit meer as vier woorde bestaan nie, en uitsluitend die voorvoegsel, sal dit nie 20 spasies oorskry nie.

4.3 Indien die naam van 'n dier eers aangeteken of geregistreer is, kan dit daarna nie weer gewysig of verander word nie, tensy die naam 'n ooglopende fout openbaar, in welke geval die naam dan net op so 'n manier verander sal word as wat nodig is om die fout te herstel.


5. DEKKING- EN INSEMINERINGSERTIFIKATE EN DIE GESAMENTLIKE BESIT VAN BULLE

5.1 Dekking- of Insemineringsertifikate

5.1.1 Indien 'n dragtige dier, wat geregistreer of geskik vir registrasie is, verkoop word moet die verkoper die koper van 'n dekkingsertifikaat (natuurlike dekking) of 'n insemineringserfifikaat (kunsmatige inseminering) voorsien.

5.1.2 Sodanige sertiflkaat moet die naam en registrasienommer van die bul, die naam en registrasienommer van die koei wat betrokke is verstrek, asook die datum van dekking of inseminering.

5.1.3 Ingeval die presiese datum van dekking nie bekend is nie, moet die dekkingsertifikaat die tydperk aandui wat die betrokke vroulike dier en genoemde bul saam geloop het en verder dat die betrokke dier nie gedurende daardie tydperk deur enige ander bul gedek kon gewees het nie.

5.2 Gesamentlike besit van Bulle

5.2.1 In die geval van gesamentlike besit van bulle, moet die volle naam en adres van elke mede-eienaar by die Vereniging op rekord wees.

5.2.2 Indien 'n teler die gebruik van sy bul of bulle deur 'n mede-teler toelaat, moet die toepaslike bepalings in die Wet en hierdie Verordening nagekom word.


6. REëLS MET BETREKKING TOT KUNSMATIGE INSEMINERING

6.1 Diere wat wettiglik deur kunsmatige inseminering verwek is sal vir registrasie in aanmerking kom: Op voorwaarde dat aan al die vereistes van die Grondwet mutatis mutandis voldoen is.

6.2 Indien verskillende bulle vir die verskaffing van semen gebruik word vir die kunsmatige inseminering van dieselfde vroulike dier, minder as 28 dae uitmekaar, sal geen nageslag wat verwek mag word vir registrasie in aanmerking kom nie, ongeag die bepalings van Verodening 6.1 hiervan, tensy die vaderskap bevestig is deur 'n DNS-toets of enige ander beproefde wetenskaplike metode om ouerskap te bevestig.

6.3 Die Genootskap behou die reg om deur middel van sy ampsdraers toesig te hou oor en/of inspeksie uit te voer aangaande die noukeurige aantekening van die toepassing van kunsmatige inseminering deur sy telers.

6.4 Die Genootskap en die Vereniging behou die reg om te weier om nageslag wat deur kunsmatige inseminering verwek is, te registreer indien enige van hierdie reëls of die bepalings van die Wet nie ten volle nagekom is nie.

6.5 Telers wat in die lande buite Suid-Afrika woonagtig is en die voorregte van registrasie van diere geniet, mag aansoek doen om die registrasie van kunsmatig verwekte nageslag: Op voorwaarde dat die semen verkry is van 'n bron wat deur die Genootskap goedgekeur is, en op verdere voorwaarde dat die opvang van die semen, die hantering daarvan, die inseminering van die diere en die hou van verslae so gedoen word as wat die Genootskap van tyd tot tyd mag goedkeur.

6.6 Die Genootskap bevestig dat, onderhewig aan die bepalings van die Wet, individuele telers onbeperkte hoeveelhede semen van hul eie bulle vir gebruik op hul eie en ander diere mag opvang, en dat die nageslag verwek deur die gebruikmaking van sodanige semen geskik is vir registrasie: Op voorwaarde dat-
•volledige besonderhede van eienaarskap van die betrokke dier en die verkoop van die semen aan die Genootskap voorgelê is; en
•die amptelike DNS-laboratoriumnommer van die dier by die Genootskap ingedien is.


7. REëLS MET BETREKKING TOT EMBRIO-OORPLASINGS

7.1 Diere wat wettiglik deur eisel- oorplasings ontstaan het, sal vir registrasie in aanmerking kom: Op voorwaarde dat -

  • aan al die vereistes van die Grondwet mutatis mutandis voldoen is;
  • beide die semen- en eiselskenker vir sodanige doeleindes deur die Raad goedgekeur is;
  • behalwe in die geval van 'n dier wat uit 'n embrio-oorplasing ontstaan en in utero ingevoer is, die volgende dokumente binne 120 dae na elke embrio-oorplasing aan die Genootskap voorgelê is -
    • die amptelike DNS-laboratoruimnommers van die semen- en eisel-skenkers betrokke; en
    • 'n sertifikaat deur 'n veearts of embrio-oorplaser, of in die geval van binne-kudde embrio-oorplasing die eienaar, te dien effekte dat die bepalings van die Wet nagekom is;
  • in die geval van 'n dier wat uit 'n eisel-oorplasing ontstaan het en in utero ingevoer is, die volgende bewyse en dokumentasie, onderteken deur 'n bevoegde liggaam in die land van herkoms, by die Genootskap ingedien word binne 30 dae na die aankoms van die ontvangerkoei in Suid-Afrika – •bewys van die dekking of inseminasie en spoeling van die embrioskenker;
    • bewys van die oordrag en die oordragdatum na die betrokke ontvangerkoei;
    • tweegenerasie stamboom van beide skenkers;
    • hul DNS-sertifikate; en
    • bewys dat hul standaarde van voortreflikheid aan die vereistes voldoen soos deur die Raad bepaal mag word;
  • 'n geboortekennisgewing met betrekking tot 'n dier verwek deur 'n eisel-oorplasing op die voorafgedrukte vorm ingedien word waarna in Verordening 9.2 verwys word;
  • ouerskap sal in elke geval deur 'n DNS-toets of enige ander beproefde wetenskaplike metode van bevestiging van ouerskap, bevestig word tensy anders deur die Genootskap of die Vereniging bepaal; en dat
  • aan al die ander vereistes van die Grondwet met betrekking tot geboorte-kennisgewings, inspeksie en/of prestasie en registrasies, voldoen is.

7.2 Die Genootskap behou die reg om deur middel van sy ampsdraers toesig te hou oor en/of inspeksie uit te voer aangaande die noukeurige aantekening van die toepassing van embrio-oorplasings deur sy telers.

7.3 Telers wat in die lande buite Suid-Afrika woonagtig is en wat die voorregte van registrasie van diere geniet, mag aansoek doen om die registrasie van nageslag wat deur embrio-oorplasings ontstaan het: Op voorwaarde dat die eiselle verkry is van 'n bron wat deur die Genootskap goedgekeur is, en op verdere voorwaarde dat die opvang van die eiselle, die hantering daarvan, die oorplasing van embrio's en die hou van verslae so gedoen word as wat die Genootskap van tyd tot tyd mag goedkeur.

7.4 Die Genootskap en die Vereniging behou die reg om te weier om nageslag wat deur embrio-oorplasings ontstaan het, te registreer indien enige van hierdie reëls of die bepalings van die Wet nie ten voIle nagekom is nie.


8. DRAGTIGHEIDS- EN INTERKALFPERIODES

8.1 Die dragtigheidsperiode is 290 dae. Die minimum aanvaarbare dragtigheidperiode is 273 dae en die maksimum 308 dae.

8.2 Geen dragtigheidperiode buite dié tydsbestek sal sonder spesiale goedkeuring van die Raad erken word nie tensy ouerskap deur 'n DNS-toets bevestig word.

8.3 Die minimum aanvaarbare periode tussen die geboortedatums van twee agtereen-volgende kalwers uit een koei (interkalfperiode) is 280 dae.


9. KENNISGEWING VAN GEBOORTE EN AANSOEK OM REGISTRASIE

9.1 Die teler van 'n kalf van 'n geregistreerde vroulike dier of vroulike dier wat vir registrasie in aanmerking kom, moet die Vereniging binne 90 dae van die geboorte van die kalf in kennis stel, ongeag of so 'n kalf lewendig of dood gebore is, of vir registrasie behou word, al dan nie.

9.2 Alle kennisgewings van geboorte moet op 'n wyse soos deur die Vereniging goedgekeur geskied, en nie later nie as 270 dae na die geboortedatum van die betrokke kalwers aan die Vereniging gestuur word en afskrifte daarvan moet deur die betrokke teler bewaar word sodat dit te alle redelike tye beskikbaar is vir insae en kontrolering deur amptenare van die Genootskap.

9.3 Ongeag Verordening 9.2 kan die Vereniging 'n kennisgewing van geboorte vir registrasie aanvaar wat die Vereniging bereik meer as 270 dae na die geboorte van die kalf: Op voorwaarde dat met die kennisgewing ook die boete ingesluit word.

9.4 Diere waarvan die geboortekennisgewing as “NIE VIR REGISTRASIE” geëndosseer is, sal onder geen omstandighede sonder toestemming van die Raad vir registrasie aanvaar word nie.

9.5 In die geval van veelvoudige geboortes moet die teler benewens die gegewens wat gewoonlik verlang word, ook op die geboortekennisgewing van elke kalf die getal en geslag van die ander kalf of kalwers aandui.

9.6 Die Vereniging sal namens elke teler rekords hou van alle geboortes, hetsy die kalwers lewendig of doodgebore is, waarvan die teler die Vereniging behoorlik in kennis gestel het en ook van sodanige ander besonderhede as wat deur die Vereniging nodig geag mag word.

9.7 Die geboortekennisgewing is onderworpe daaraan dat die teler volle verantwoordelikheid aanvaar dat die stamboom, telingsbesonderhede en permanente identifikasie van die dier of diere in die geboortekennisgewing vermeld korrek is en dat aan al die vereistes van die Grondwet met betrekking tot geboortekennisgewings voldoen is.

9.8 In die geval van 'n dier wat in utero ingevoer is, moet die geboortekennisgewing vergesel gaan van 'n sertifikaat wat behoorlik geteken is deur 'n bevoegde liggaam in die land van herkoms en waarop aangedui word -

  • dat die identifikasie van die vader, soos op die dokumente aangedui, korrek is; en
  • dat die vader aan die registrasie vereistes voldoen soos deur die Raad bepaal mag word.


10. BEVESTIGING VAN OUERSKAP

10.1 Ten einde die ouerskap van 'n geregistreerde dier of 'n dier geskik vir registrasie te bepaal behou die Genootskap die reg om te eniger tyd 'n DNS-toets of enige ander beproefde wetenskaplike metode van bevestiging van ouerskap te vereis -

  • as 'n roetine prosedure soos van tyd tot tyd deur die Vereniging bepaal; en
  • in enige geval van twyfel.

10.2 In die geval van die DNS-toets waarna in Verordening 10.1(a) verwys word sal die teler vir alle koste van alle ouerskapkontroletoetse van die tweede toets af, verantwoordelik wees.

10.3 In die geval van die DNS-toets waarna in Verordening 10.1(b) verwys word sal die teler of die Genootskap, soos deur die Raad bepaal, vir die koste van die DNS-toetse verantwoor-delik wees.


11. VEREISTES VIR REGISTRASIE

11.1 Algemeen

11.1.1 Deelname aan produksieaantekening sal verpligtend wees vir alle lede vanaf 1 Januarie 2015. Diere aangebied vir keuring moet ten minste vir twee eienskappe evalueerbaar wees (speengewig en twaalf of agtien maande gewig).

11.1.2 Registrasie geskied met aantekening van geboorte.

11.1.3 Uitgesonder die bepalings van Verordening 11.2.1 sal geen aansoek om registrasie van 'n Suid-Afrikaansgeteelde dier oorweeg word nie tensy -

  • besonderhede van geboorte na behore aangeteken is of ooreenkomstig die bepalings van Verordening 9 vir registrasie aanvaar is,
  • beide ouers of, in die geval van 'n dier ingevoer in utero of 'n dier voort-spruitend uit ingevoerde semen, die moeder, by die Vereniging geregistreer is,
  • die vader ten tyde van die dekking van die moeder ouer as ses maande was en onderwerp is aan DNS-tipering en/of die moeder ten tyde van dekking ouer as nege maande was.

11.1.4 Geen dier sal vir registrasie in aanmerking kom indien dit nie aan die rasstandaard voldoen nie.

11.1.5 Indien daar twyfel bestaan oor die besonderhede op die geboortekennisgewing of meegaande sertifikate, mag die dier na oordeel van die Raad van registrasie uitgesluit word.

11.1.6 Die metode van aansoek sal -

  • deur die Vereniging neergelê word; en
  • deur die Genootskap geëndosseer word te dien effekte dat al die vereistes van die Grondwet met betrekking tot registrasie nagekom is.

11.1.7 Alle bulle wat in stoetkuddes gebruik word met DNS-getipeer wees.

11.1.8 Die gebruik van veelvuldigevaars is toelaatbaar vir registrasie in die Kuddeboek. Net volgeregistreerde stoetvaars mag gebruik word. DNS -profiele van beide die stoetvaar en die kalf word vereis vir registrasie.

11.2 Ingevoerde Diere

11.2.1 'n Ingevoerde dier of 'n dier verwek deur ingevoerde semen of 'n ingevoerde embrio sal geskik wees vir registrasie op voorwaarde dat die vereistes van die Wet en van die Grondwet mutatis mutandis nagekom is.

11.2.2 'n Dier wat in die Gebied ingevoer word sal geskik wees vir registrasie op voorwaarde dat aansoek vir registrasie binne drie maande vanaf datum van aankoms van die dier gedoen word en die aansoek vir registrasie vergesel gaan van -

  • 'n sertifikaat van registrasie of 'n oorspronklike uitvoersertiflkaat wat 'n twee generasie uitgebreide stamboom weergee, uitgereik deur die stamboek-genootskap in die land van herkoms;
  • bewys tot dien effekte dat die betrokke dier aan die registrasie vereistes voldoen soos van tyd tot tyd deur die Genootskap bepaal mag word; en
  • 'n verslag van die inspekteur wat bevestig dat die permanente identifikasiemerk soos op die registrasie- en/of uitvoersertiflkaat aangedui ooreenstem met die betrokke dier.

11.2.3 Registrasiesertifikate sal deur die Vereniging ten opsigte van ingevoerde diere uitgereik word.

11.3 Ingevoerde Semen en Eiselle

11.3.1 Nageslag wat deur inovulering met ingevoerde eiselle ontstaan het ten opsigte waarvan die bepalings van die Grondwet mutatis mutandis voldoen is, sal vir registrasie in aanmerking kom: Op voorwaarde dat sodanige ingevoerde eiselle-

  • deur 'n bevoegde liggaam in die land van herkoms (goedgekeur deur die Direkteur: Dieregesondheid van die Nasionale Departement van Landbou) van eiselskenkers wat aan die minimum vereistes vir registrasie voldoen soos van tyd tot tyd deur die Raad bepaal; en
  • indien bevrug moet sodanige eiselle bevrug wees met die semen van 'n dier wat eweneens aan die minimum vereistes vir registrasie voldoen soos van tyd tot tyd deur die Raad bepaal.

11.3.2 Die geboortekennisgewing moet, onderhewig aan die bepalings van Verordening 6, ook vergesel gaan van 'n sertifikaat deur 'n bevoegde liggaam in die land van herkoms, goedgekeur deur die Genootskap en die Vereniging, waarop aangedui word -

  • die name, identifikasie- en registrasienommers van die eisel- en semen-skenkers;
  • die datum en plek van opvangs; en
  • die aantal lewensvatbare eiselle van die betrokke eiselskenker opgevang.


12. INSPEKSIE EN PRESTASIEVEREISTES

12.1 Minimum Standaarde

Minimum inspeksie- en produksiestandaarde as voorvereiste vir registrasie sal van tyd tot tyd deur die Raad bepaal word.

12.2 Inspeksie en Pligte van lnspekteurs

12.2.1 Die Raad sal, ooreenkomstig Klousule 9(i) van die Grondwet, inspekteurs aanstel om alle geregistreerde diere te inspekteer of te klassifiseer.

12.2.2 'n Inspekteur sal elke geregistreerde dier keur of klassifiseer nadat die bewys van registrasie aan hom voorgelê is. Hy moet homself vergewis dat die identifikasie, kleur, ouderdom en ander gegewens wat op die sertifikaat voorkom reg aangegee is en ooreenstem met die dier wat vir inspeksie of klassifikasie aangebied word. Verder moet hy tot eie bevrediging seker maak dat die dier in alle opsigte voldoen aan die rasstandaard en aan die minimum prestasievereistes soos van tyd tot tyd deur die Raad bepaal. Enige verskil of teenstrydigheid kan so 'n dier diskwalifiseer en daartoe lei dat die dier gekanselleer word.

12.2.3 Dit is verpligtend dat 'n teler tydens besoek van die inspekteur alle diere wat nog nie gekeur is nie en aan die volgende minimum ouderdom vereistes voldoen voor die inspekteur te bring vir keuring behalwe in die geval van ingevoerde diere waar geen ouderdomsbeperking geld nie -.

Bulle & Verse - Minimum ouderdom 12 maande, maar nie jonger as 10 maande nie.

Die inspekteur het die mag om na eie oordeel enige dier oor te hou vir inspeksie tot die volgende besoek.

12.2.4 'n Inspekteur mag in opdrag van die Raad van tyd tot tyd sonder vooraf waarskuwing 'n algemene inspeksie van enige kudde doen.

12.2.5 Enige telers wat nie met 'n inspekteur se beslissing tevrede is nie, mag binne drie weke na die inspeksie of klassifikasie appèl by die Genootskap aanteken. Sodanige appèl moet van 'n deposito, soos van tyd tot tyd deur die Raad bepaal, vergesel gaan. 'n Appèlraad wat deur die Raad van die Genootskap aangewys word sal dan die betrokke dier of diere inspekteer en indien die appèl slaag, sal die deposito terugbetaal word. Indien nie, verbeur die appellant sy deposito en is verantwoordelik vir alle koste deur die Appèlraad aangegaan.

12.2.6 Behalwe in die gevalle waarna verwys word in Verordening 12.2.4, sal telers vroegtydig van die tyd en datum van 'n inspekteur se voorgenome besoek in kennis gestel word.

12.2.7 Spesiale inspeksies of klassifikasies kan slegs met toestemming van die Raad plaasvind indien 'n inspekteur beskikbaar is en die aansoeker toestem om die gelde ten opsigte van spesiale inspeksies soos van tyd tot tyd deur die Raad bepaal en die reis- en ander koste van die inspekteur te betaal.

12.2.8 Bo en behalwe die inspeksies waarna hierbo verwys word, mag inspekteurs in opdrag van die Raad ander pligte verrig wat die volgende insluit:

  • klassifikasie of gradering op aansoek van die betrokke teler teen sodanige tarief as wat die Raad van tyd tot tyd mag bepaal; en
  • demonstrasies en lesings tydens boeredae of beoordelaarskursusse.

12.2.9 Inspekteurs in diens van die Genootskap mag nie instruksies van telers of nie-lede aanvaar om die koop en verkoop van diere te bewerkstellig nie en ook nie enige kommissie ontvang voortspruitend uit die koop of verkoop van diere nie: Op voorwaarde dat hierdie bepaling nie op telers wat as inspekteurs aangestel is van toepassing is nie.

12.2.10 Geen teler mag as inspekteur van sy eie diere of dié van 'n familielid optree nie.


13. REGISTRASIESERTIFIKATE

13.1 Oorspronklike Sertifikate

Registrasiesertifikate wat ten opsigte van diere uitgereik word wat aan die inspeksie- en produksievereistes in terme van Verordening 12 voldoen, sal met die toestemming van die Vereniging, in die formaat wees soos deur die Genootskap verlang. Gegewens ten opsigte van gemete produksie in die Vleisbeesproduksie-aantekeningskema, klassifikasie en ander inligting mag op die registrasiesertifikaat voorkom of op „n bygaande klassifikasie - of produksie-sertifikaat.

13.2 Veranderings of byvoegings op Registrasiesertifikate

Enige wysiging of byvoeging tot die essensiële inligting of besonderhede wat amptelik op enige registrasiesertifikaat voorkom, wat nie deur die Hoofbestuurder van die Vereniging geparafeer is nie, of enige ongemagtigde endossement of opmerking op sodanige sertifikaat wat betrekking het op die essensiële inligting of besonderhede wat daarin vervat is, sal sodanige sertifikaat ongeldig maak.

13.3 Duplikaat Registrasiesertifikate

Op ontvangs van 'n skriftelike aansoek van die eienaar van 'n dier, vergesel van 'n verklaring deur die aansoeker waarin die gebeure duidelik uiteengesit word, sal die Vereniging 'n duplikaat van die oorspronklike sertifikaat uitreik wat beskadig, per ongeluk vernietig of verlore is: Op voorwaarde dat sodanige aansoek gedoen word deur die persoon in wie se naam die betrokke dier laaste geregistreer is en verder dat die aansoek vergesel gaan van sodanige gelde betaalbaar soos van tyd tot tyd deur die Raad bepaal.

13.4 Kansellering van Registrasiesertifikate en die Herinstelling van Diere

13.4.1 Die Raad mag die Sekretaris versoek om by die Vereniging aansoek te doen om die kansellering van die registrasie van enige dier wat -

  • verkeerdelik geregistreer is;
  • geregistreer is op grond van valse of bedrieglike inligting wat deur die eienaar verstrek is;
  • geregistreer is nadat die eienaar versuim het om te voldoen aan enige vereiste van enige toepaslike Verordening;
  • nie aan die minimum vereistes soos wat van tyd tot tyd deur die Raad bepaal word, voldoen nie;

en om die teler of eienaar dienooreenkomstig in kennis te stel.

13.4.2 Indien 'n dier wat geregistreer is vrek, gekastreer of gesteriliseer word, of nie voor 39 maande ouderdom gekalf het nie, of vir slagdoeleindes verkoop word, moet die sertifikaat wat deur die Vereniging uitgereik was binne 30 dae na sodanige gebeure aan die Vereniging teruggestuur word vir kansellering en/of endossement ingevolge die bepalinge van die Grondwet van die Genootskap en dié van die Vereniging.

13.4.3 Alle sodanige teruggestuurde dokumente vir kansellasie sal behoorlik geëndosseer en vir 'n periode van ses maande deur die Vereniging gehou word, waarna dit vernietig sal word.

13.4.4 Indien die registrasiesertifikaat van 'n dier in terme van Verordening 13.4.1 gekanselleer is, sal sodanige dier slegs op aanbeveling van die Raad in die rekords van die Vereniging herstel word. Die eienaar van 'n dier kan te eniger tyd deur die Genootskap by die Vereniging aansoek doen vir die herinstelling van 'n dier wat deur hom gekanselleer is. Die aansoek om sodanige herinstelling moet vergesel gaan van die gelde wat van tyd tot tyd hiervoor deur die Raad bepaal word.

13.4.5 Geen nageslag van 'n dier, waarvan die registrasie ooreenkomstig Verordening 13.4.1 gekanselleer is, sal na die datum van sodanige kansellasie geregistreer word nie.

13.4.6 Voordat die Raad om die kansellering van 'n dier aansoek doen, moet die Sekretaris die eienaar van die dier minstens 30 dae voor die tyd skriftelik kennis gee van die voorneme om dit te doen.


14. OORDRAGTE

14.1 Verandering van eienaarskap sal as plaasgevind beskou word indien -

  • 'n dier verkoop, geruil of geskenk is;
  • 'n dier geërf is;
  • 'n vennootskap of twee of meer persone wie gesamentlik 'n deelnemer is ontbind is; of
  • 'n manlike dier geregistreer is in die naam van twee of meer eienaars en enigeen (of meer) afstand doen van sy/hul aandeel in die dier wat so geregistreer is of om enige rede afstand doen van sy/hul belange in genoemde geregistreerde manlike dier.

14.2 Enige verkoper wie eienaarskap van 'n dier, of gedeeltelike eienaarskap in 'n manlike dier, oordra, moet binne 30 dae vanaf datum van oordrag -

  • die Vereniging met die registrasiesertifikaat van die betrokke dier voorsien, met die besonderhede van die oordrag volledig voltooi op die betrokke sertifikaat; en
  • die Genootskap voorsien met die gelde betaalbaar wat van tyd tot tyd deur die Raad bepaal mag word:
    Op voorwaarde dat indien die aansoek later as 30 dae, maar minder as 90 dae na die oordragdatum deur die Vereniging ontvang word of meer as 60 dae maar minder as 90 dae na dié datum, die gelde wat met betrekking tot die oordrag verskuldig sal wees, respektiewelik dubbeld en driemaal die voorgeskrewe gelde sal wees. 'n Aansoek om sodanige oordrag wat meer as 90 dae na die oordragdatum deur die Vereniging ontvang word sal aanvaar word na betaling van sodanige gelde as wat van tyd tot tyd deur die Raad bepaal mag word.

14.3 Vir die doel van hierdie Verordening word die oordragdatum gereken as die datum waarop die dier die besit van die verkoper of oordraer verlaat.

14.4 Indien die dier wat oorgedra word -

  • 'n dragtige vroulike dier is, moet die verkoper die Vereniging met 'n sertifikaat voorsien wat die naam, identifikasie en registrasienommer van die manlike dier aandui wat haar gedek het, tesame met die dekkingsdatum/s, of van die manlike dier met wie se semen sy geïnsemineer is, en die inseminasie datum/s, wat ookal die geval mag wees. Die verkoper moet ook die koper met 'n afskrif van sodanige sertifikaat voorsien;
  • 'n ontvangerkoei is, moet die aansoek om oordrag vergesel gaan van die geboortekennisgewing waarna in Verordening 9.2 verwys word tesame met die ander sertifikate in ooreenstemming met Verordening 6.

14.5 Indien die verkoper of oordraer in gebreke bly of weier om enige stappe te doen ten uitvoer van sodanige oordrag en in gebreke bly of weier om die oorspronklike registrasiesertifikaat te verskaf en indien die koper of nuwe eienaar bereid is om sodanige gelde as wat die Raad mag voorskryf te betaal, mag die Raad sodanige stappe neem as wat nodig geag mag word om te voldoen aan die wense van die koper of nuwe eienaar.

14.6 Geen verandering sal aan 'n reeds aangetekende oordragdatum aangebring word nie tensy 'n aansoek te dien efftekte, behoorlik deur die betrokke koper en verkoper onderteken, by die Vereniging ingedien word.


15. WEIERING VAN AANSOEKE

15.1 In die geval van nageslag van 'n vroulike dier gedek deur verskillende manlike diere of geïnsemineer met semen van verskillende manlike diere minder as 28 dae uitmekaar, sal die Genootskap die Vereniging versoek om registrasie te weier tensy vaderskap bevestig word deur 'n DNS-toets of enige ander beproefde wetenskaplike metode vir die bevestiging van ouerskap wat vir die Vereniging aanvaarbaar is.

15.2 Die Genootskap mag die Vereniging versoek om te weier om enige aansoeke van persone te aanvaar wie opsetlik valse, onvolledige of misleidende inligting verskaf het of wie versuim het om binne 'n redelike tyd enige inligting of besonderhede wat dit sy plig was om te verstrek, te voorsien.

15.3 Wanneer ookal die Vereniging geweier het om aansoeke van enige persoon te aanvaar, mag die Genootskap daarbenewens die Vereniging versoek om enige of alle vorige inskrywings namens sodanige persoon in die Kuddeboek, te kanselleer.

15.4 Die Genootskap sal geen stappe ooreenkomstig Verordeninge 15.2 of 15.3 neem nie tot na 'n ondersoek deur 'n kommissie bestaande uit die President en/of Vise-President en twee ander lede aangestel deur die Raad, en in ooreenstemming met die aanbevelings van sodanige kommissie.


16. INVOER EN UITVOER VAN DIERE, SEMEN EN EISELLE

16.1 Aansoeke vir die in- en uitvoer van diere, semen en eiselle sal, ooreenkomstig die Wet, in duplikaat op die vorms, verkrygbaar by die Registrateur, by die Genootskap ingedien word tesame met die voorgeskrewe gelde. Die Genootskap sal een afskrif tesame met sy aanbeveling en die dokumente wat die besonderhede weergee waarna in Verordening 16.2 verwys word, aan die Registrateur stuur.

16.2 Die Raad sal minimum prestasie- en ander vereistes vir die invoer en uitvoer van diere, semen en eiselle ooreenkomstig Klousule 9(y) van die Grondwet bepaal en geen sodanige invoer of uitvoer sal deur die Genootskap by die Registrateur aanbeveel word, tensy aan al die genoemde vereistes voldoen is nie.

16.3 Ingevoerde diere en diere verwek deur ingevoerde semen en eiselle wat aan die minimum vereistes waarna in Verordening 16.2 verwys word en die vereistes van die Grondwet, sal geskik wees vir registrasie.

16.4 Die Vereniging mag, op aansoek en by betaling van sodanige gelde as wat deur die Raad bepaal mag word, uitvoersertifikate uitreik ten opsigte van diere, semen of eiselle in die formaat soos deur die Genootskap verlang en deur die Vereniging goedgekeur.

 

© Braunvieh SA. All Rights Reserved.
No article or picture may be reproduced\published
without the written consent of Braunvieh SA.