051 410 0967   E-mail Us  
Braunvieh Kruisteling

Braunvieh Kruisteling

Ideale kruisdiere vir die voerkraal - Chris Jooste

Nadat die boer meer as ‘n dekade gelede stoetteling laat vaar en op ‘n kruisteelprogram vir die produksie vir voerkrale konsentreer het, het hy begin om die ideale kruisdiere te teel - geharde diere met goeie vleis- en melkeienskappe.

In ‘n kruisteelprogram waarin Brahman-, Braunvieh- en Charolaisbulle in ‘n spesifieke volgorde gebruik word, het mnr. Bruce Hunt van die plaas Vaalboschputs, naby Warrenton, nou na sy mening die regte “resep” gevind om die ideale kruisdiere te teel. Met die bulle en ‘n gestandaardiseerde kudde teelkoeie kan hy die kalwers lewer wat die voerkrale graag wil hê. Hy het die ervaring daarvan, want hy is buiten boer ook veekoper vir meer as een voerkraal.

Toe Hunt in 1992 stoetteling vir ‘n kommersiële beesboerdery verruil het, het hy vir homself die doelwit gestel om ‘n geharde bees te teel wat droogtes kan oorleef en goed kan loop, met goeie vleiseienskappe en genoeg melk om kalwers goed groot te maak. Daarvoor het hy ‘n goeie dubbeldoelras nodig gehad vir die vleiseienskappe asook ‘n geharde ras.

Sy teelprogram het aanvanklik daaruit bestaan dat hy Hollandse Friesbulle, wat as uitstaande dubbeldoeldiere beskou is, by Brahmankoeie gebruik het. Op die kruisverse het hy weer Brahmanbulle gebruik wat vir hom kruisdiere gegee het wat 75% Brahman en 25% Hollandse Fries, ‘n kruising wat vir hom te veel na Brahman geneig het. Hollandse Friesteling het in daardie stadium ook al hoe meer op melkeieskappe gekonsentreer, wat die dubbeldoel-eienskap van die ras laat verdwyn het. Omdat ‘n dubbeldoelras se vleiseienskappe en veral sy melkproduksie vir hom belangrik is, het hy ander dubbeldoelrasse in sy kudde begin gebruik.

Nadat proefnemings met ander dubbeldoelrasse nie die gewenste resultate opgelewer het nie, gebruik Hunt nou net Braunvieh-bulle. Die resultaat is teeldiere met die gehardheid en loopvermoë van Brahmane met die effens groter raam van die Braunvieh met goeie melk- en vleisproduksie. Hy glo die kruiskoeie is die ideale teeldiere.

Om die meer gewig (vleis) te kry wat die voerkrale vereis, gebruik hy Charolaisbulle op die teelkoeie. Hunt se kruisteelprogram het ‘n volgorde en begin met Braunviehbulle by Brahmanverse. Die volgende verse gaan na ‘n Brahmanbul. Die laaste skakel in die ketting is die verse wat dan by Charolaisbulle kom. Daarna word al die diere verkoop. Die boerdery is net om kalwers vir voerkrale te lewer. Kalwers word van 7 tot 7,5 maande gespeen. In ‘n swak jaar speen die kalwers gemiddeld 243kg. In ‘n goeie jaar is die gemiddelde speengewig 268kg.

Geen dekseisoen word toegepas nie - veral omdat dit sou beteken dat minder kalwers in droë tye aankom. Die koeie wat vanaf 1 Oktober tot die einde van Maart kalf, word in aparte kuddes met bulle geplaas. All koeie wat nog nie gekalf het nie, word in April vir dragtigheid getoets. Die wat nie dragtig is nie of vroeg dragtig is, word uitgeskot. Diere wat nie kalf nie, word nie behou nie. Koeie en verse van verskillende ouderdomme word bymekaar aangehou vir beter en makliker bestuur.

Verse word op ‘n gewig van 350kg die eerste keer by die bul geplaas - in Desember en Januarie om die diere in die regte siklus te kry. Gemiddeld 25 koeie of verse word by elke bul geplaas.

Normaalweg word gemiddeld 450 verse per jaar vir vervangingsverse teruggehou. Omdat die vorige jaar ‘n droë jaar was en net 350 verse gehou is, is vanjaar 600 tot 700 verse vir vervanging teruggehou. Met die teelbeleid waarvolgens die teeldiere uit 75% Brahman en 25% Braunvieh bestaan, word die tipes in die boerdery verminder totdat net groepe van 50/50 Brahman en Braunvieh en 75/25 Brahman en Braunvieh oorbly. Hunt glo die kombinasie gee die maksimum rand per hektaar. Op die manier is die kudde ook gestandaardiseer en baie eenvormig - vir Hunt ‘n belangrike aspek van ‘n geordende boerdery. Voorheen was daar meer groepe en tipes.

Om die beste teelkoeie te verseker, gebruik Hunt al die afgelope vier jaar sowat 70 Braunviehbulle. Van die drie verskillende rasse word 140 bulle in die boerdery gebruik, met 20 tot 30 spaarbulle. Bulle word gereeld vervang en hy koop gereeld nuwe bulle by stoettelers. Hunt sê hy is nou op die punt van sy boerdery waar hy sy mikpunt bereik het van eenderse, geharde diere wat droogtes kan oorleef, goed kan loop en met genoeg vleis (wat die voerkrale wil hê) en goeie melkeienskappe om kalwers groot te maak.


Kruisteling

Die Braunvieh het besondere eienskappe wat die ras uiters geskik maak vir kruisteeldoeleindes.

  • Die Braunvieh het ‘n onmiddelike positiewe impak op enige kommersiële beesras in kruisteling. Geen wonder dat daar in die meeste lande ter wêreld, naamlik in 49 lande, suksesvol met die Braunvieh gekruis word.
  • Die eerste kruiskoeie het baie meer melk, goeie uiers en spene en ‘n verbeterde bouvorm en konstitusie en speen kalwers met ‘n hoër gewig as die norm.
  • Kalwers beskik oor goeie vleiseienskappe, groei vinnig en het ‘n goeie voeromsetverhouding – wenners in die voer kraal.
  • Die Braunvieh maak enige beesras rustiger, verhoog die groeitempo en plaas meer geld op speenouder dom in die boer se sak.
  • Die Braunvieh- en braunviehkruiskalwers bereik speengewig vir die speenkalfmark reeds op die ouderdom van tussen 5 tot 6 maande. Koeie kan dus gouer gespeen word en geld is gouer in die boer se sak.


BRAUNVIEH: Die ideale kruisras - H.S.Labuschagnè


Die Braunvieh is een van die mees onderskatte rasse in Suid-Afrika, nie net as suiwer ras nie maar veral vir die gebruik in ‘n kruisteelprogram. Nog net enkele beesboere het die uitstekende kruisvermoë van diè ras ontdek. Een voorbeeld hiervan is Mnr Bruce Hunt van Warrenton wat Braunvieh bulle gebruik in sy kruisteelprogram om die ideale kruisdiere vir die voerkraal te produseer.


Aanpasbaarheid

Navorsing wat in 1951 by die Omatjenne Navorsingstasie in Namibië begin is onder veld toestande, het toe al bewys dat die Braunvieh ‘n ras is wat oor die potensiaal beskik om een van die leidende beesrasse te wees in Suid-Afrika (Borstlap, 1996). Diè navorsing het verskeie goeie eienskappe van die ras uitgewys.

Daar is gekyk na aanpasbaarheid en die asemhalingstempo is gemeet van verskillende rasse. Na ‘n 3 km stap het die Braunvieh die laagste asemhalingstempo gehad van al die rasse, wat ‘n goeie aanduiding is van aanpasbaarheid. Dan het die Braunvieh nog die voordeel gehad van kort hare, donker pigment, swart kloue, goeie spene en lae uitwendige parasiet besmetting. Ook wat oogsiektes betref, het die Braunvieh die laagste persentasie van al die rasse gehad (Borstlap, 1996). Oogkanker kom byvoorbeeld nie maklik by die ras voor nie Dit is dan geen wonder dat telers suksesvol met die ras boer in al die streke van die land nie, tot in die ariede dele van die Karoo.


Reproduksie

Die navorsing by Omatjenne het bestuur dieselfde gehou vir die verskillende rasse en weereens het die Braunvieh goed presteer ten opsigte van reproduksie deur een van die drie beste rasse te wees van die twaalf rasse wat deel geneem het. Die Braunvieh het ‘n kalfpersentasie van 79.2% behaal onder veld toestande. Voeding speel ‘n groot rol in die vrugbaarheid van diere en kan deur bestuur verbeter word (Borstlap, 1996).


Produksie

Volgens Borstlap (1996) is daar statisties ‘n hoogs betekenis-volle korrelasie gevind tussen speengewig en slaggewig. Speengewig is dus van groot belang wat dien as maatstaf van melkeienskappe onder ekstensiewe toestande. In sy navorsing was daar nie betekenisvolle verskille tussen die eerste twee rasse waaronder die Braunvieh een was nie. Groei vermoë is veral van belang aangesien daar ‘n noue genetiese verwantskap bestaan tussen groeivermoë en die doeltreffendheid van voerverbruik (Borstlap, 1996).

Dieselfde proef het die totale ekonomiese waarde bere-ken met kalfpersentasie as uitgangspunt, sterftes, gewig uitgeslag en gemiddelde netto inkomste op die mark. Met hierdie navorsing, waar die behandeling deurgaans dieselfde was, kan dit aanvaar word dat die meer aangepaste rasse die hoogste kalfpersentasie sou lewer, met die laagste sterftes en grootste gewigstoename. Die Braunvieh was weereens onder die beste drie rasse, wat ‘n bewys is van die ras se aanpasbaarheid, vrugbaarheid en produksievermoë (Borstlap, 1996).


Karkas eienskappe

Die Irene Diereproduksie-Instituut (IDPI) het ‘n studie gedoen (Claassen en De Bruin, 1994) met die primêre doel om die produksie en karkaseienskappe (groei, karkas en vleis) van die mees algemene genotipes (suiwer- en kruisrasse) in Suid-Afrika te beskryf. Die evaluasieprogram dien ‘n bruikbare doel as indikasie van die vergelykende posisie van ‘n spesifieke ras, rakende produksie en karkaseienskappe. Hierdie inligting voorsien verwysingspunte vir die seleksie van die betrokke eienskappe wat nie geredelik beskikbaar is nie.

Die navorsing het getoon dat die Braunvieh ‘n betekenisvolle hoë GDT gehandhaaf het, oor ‘n verlengde voerperiode, asook die VOV wat steeds verbeter het. Die resultate kan net behaal word indien steeds meer spier as vet neergelê word. Op 162 dae het die karkas slegs ongeveer 14% karkasvet gehad. Ten tye van ‘n positiewe voermarge kan ‘n verlengde voerperiode met die gunstige GDT en VOV en lae vetpersentasie met vrug benut word deur enige persoon wat beeste intensief afrond (Claassen en De Bruin, 1994).

Die Braunvieh sit dus nie te vinnig vet aan in ‘n voerkraal nie. Dit is veral belangrik in die voer van teeldiere vir veilings,omdat rugvetdikte negatief korreleer met vrugbaarheid (Coulter, 1994).

Claassen en De Bruin, 1994 het bevind dat die uitslagpersentasie van die Braunvieh onderskeidelik 5.7% en 4.3% beter daaraan toe was as die ander dubbeldoel – en vleistipes in die proef. Die Braunvieh sal groter karkasse op die mark plaas met dieselfde karkasvet (afgerondheid) as die gemiddelde karkas. Weens die lae beenpersentasie van Braunvieh bulle, gemeet teenoor ander rasse, het die ras se superioriteit met betrekking tot spier tot been verhouding (4.45) duidelik na vore gekom. Bogenoemde faktore wys op goeie kompaktheid (bouvorm) van die diere met weefselverspreiding (duur vleis : goedkoop vleis) wat groot winste kan realiseer met die hoë gewig wat die Braunvieh behaal.

In vergelyking met die ander dubbeldoel – en vleistipes in die proef, is die Braunvieh se karkaspotensiaal-eienskappe van so ‘n aard dat dit as ‘n baie ekonomiese eenheid intensief gevoer en bemark kan word. Vanuit die vleishandelaar se oogpunt is die spier tot been en vleis tot been verhoudings belangrik, aangesien dit beteken dat die verkoopbare vleisopbrengs per karkas hoër is (Claassen en De Bruin, 1994).

Die Braunvieh was in alle opsigte van die groeiprestasie tot by die finale vleiskwaliteiteienskappe baie kompeterend teenoor ander rasse wat dieselfde tipe proef ondergaan het. Dit wys daarop dat daar konsensus bereik is in die tipe dier wat gebruik moet word in die kombinasie van groei en vleiseienskappe, met die nodige aandag aan goeie melkproduksie, sonder benadeling van een van bogenoemde faktore (Claassen en De Bruin, 1994).

Al die bogenoemde faktore gekombineer met heterose (basterkrag) in ‘n kruisteel program kan die Braunvieh dus gebruik word om ‘n goeie voerkraal dier te produseer.


Vleiskwaliteit

By die vleiskwaliteiteienskappe van die Braunvieh wat sintuiglik, fisies en biochemies bepaal is, was die vergelyking met die kommersiële groep baie vergelykbaar in alle fasette.

Uit die proef was dit duidelik dat die Braunvieh se vleis betekenisvol sagter is as die gemiddeld van die vleis van ander rasse en kruisings wat by die Vleiskunde Sentrum te Irene getoets is (by fisiese metings geneem). Die algemene aanvaarbaarheid van Braunvieh vleis was volgens ‘n proefpaneel effens beter as die kommersiële resultate (Claassen en De Bruin, 1994).


Gevolgtrekking

Wat verwag ‘n teler van ‘n ras in ‘n kruisteelprogram?

  • Die ras moet aanpasbaar wees in enige omgewing onder alle toestande.
  • Moet vrugbaar wees (koeie met kort kalf intervalle en bulle met groot skrotumomvang).
  • Die ras moet goeie produksie eienskappe toon (genoeg melk, swaar kalwers speen, kalwers wat kan groei, goeie voeromsetters wees en nie ‘n te groot raamwerk nie).
  • Goeie karkas eienskappe (swaar karkasgewig, hoë uitslag persentasie en ‘n hoë vleisopbrengs van die karkas).
  • Kwaliteit vleis (sagte, sappige en geurige vleis).

Dit is baie duidelik dat die Braunvieh die ras is met die regte eienskappe vir enige kruisteelprogram. Die ras is egter nog baie onderskat en behoort heelwat meer gebruik te word.


Verwysings

BORSTLAP, R., 1996. Lesing. Bruin Switser, Ras Promosiedag.

CLAASSEN, H. EN DE BRUIN, J.F., 1994. ‘n Omvattende navorsingstudie van die groeiprestasie, karkas- en vleiseienskappe van die Bruin Switser.

COULTER, G.H., 1998. Beef bull fertility: Factors affecting seminal quality. In : Factors affecting calf crop. Eds. Michael j. Fields & Robert s. Sand. Butterworths, Florida.

 - Afrikaner koei met 'n Braunvieh kalf

Afrikaner koei met 'n Braunvieh kalf

 - Brahman met 'n 4 en 'n half maande Braunvieh kalf

Brahman met 'n 4 en 'n half maande Braunvieh kalf

 - Bonsmara koei met ‘n Braunvieh kalf

Bonsmara koei met ‘n Braunvieh kalf

 - Braunvieh X Brahman met Braunvieh kalf

Braunvieh X Brahman met Braunvieh kalf

 - Braunvieh X Brahman X Charolais

Braunvieh X Brahman X Charolais

 - Boran X Braunvieh kalwers saam met Braunvieh kalf

Boran X Braunvieh kalwers saam met Braunvieh kalf

 - Braunvieh X Afrikaner met Braunvieh kalf

Braunvieh X Afrikaner met Braunvieh kalf

 - Braunvieh kruis osse onder ‘n jaar

Braunvieh kruis osse onder ‘n jaar

 - Braunvieh X Nguni

Braunvieh X Nguni

 - Braunvieh X Charolais

Braunvieh X Charolais

 - Jersey X Fries met ‘n Braunvieh kalf

Jersey X Fries met ‘n Braunvieh kalf

 - Nguni koei met Braunvieh kalwers

Nguni koei met Braunvieh kalwers

 - Braunvieh x Boran

Braunvieh x Boran

 - Braunvieh x Boran

Braunvieh x Boran

 - Braunvieh x Boran

Braunvieh x Boran

 - Braunvieh x Boran

Braunvieh x Boran




© Braunvieh SA. All Rights Reserved.
No article or picture may be reproduced\published
without the written consent of Braunvieh SA.